NewsNews

Ek sê maar net… Wanneer geduld opraak…

RUBRIEK - Wie kry nie dae wat dit voel jy wil net wegloop nie? As die frustrasies hoog loop, bederf jouself en ontspan. Partykeer help dit totdat jy weer bestuur, maar dis die gedagte wat tel...

RUBRIEK – 2025 is so ver nie een van my bestes nie. Ek voel half lus om te sê: Geseënde Kersfees en Voorspoedige Nuwejaar en dan net weg te raak totdat 2026 eendag sy verskyning maak.

Ek dink ek het êrens langs die pad vergeet om in die geduld ry te gaan staan en nou is my geduld vir 2025 opgebruik.

In ‘n poging om van frustrasies ontslae te raak, besluit ek om myself die week bietjie te bederf met ‘n manikuur. In my lewe het ek nog net een keer ‘n regte manikuur gehad en dit was voor my troue in 2003.

Dit het ook nie heeltemal gewerk nie, want ‘n halfuur later toe was my ringvinger se naellak nie meer perfek nie.

Ek was seker weer ongeduldig met die droog word slag en het tien teen een weer met my hande beduie in plaas van stilgesit. Selfs op die troufoto’s hou ek die betrokke vinger maar so half onder die ander weggesteek.

Maar wat, dit was ‘n leeftyd en ‘n half terug. Dit nou daar gelaat. Ek knyp oë toe oor die begroting en kry my sit in die naelsalon.

Vergeet bietjie my frustrasies en ontspan. Na ‘n rukkie kom sit ‘n ouerige vrou met skelpienk hare en haar dogter neffens my vir pedikure.  Dit gaan heel goed, totdat die vrou haar foon aansit en ek hoor hoe ontplof die f-bomme.

Ek dag eers dis ‘n grappie wat sy luister, maar nee, toe kom ek agter sy is in gesprek met ‘n paar mense op een slag en haar foon basuin die gesprek na almal uit.

Die mense was óf baie, baie kwaad vir iemand, óf hulle ken net een woord. Selfs die naeltegnici het ongemaklik na mekaar begin loer.

Gelukkig is ek gouer as hulle by die deur uit en het ek nie die einde van die aanlynbaklei gehoor nie.

My ontspanne gemoed het egter nie lank gehou nie. Eers tref ek die waentjie-sleepers wat mos aljimmers die hele linkerkantste baan vol loop met hul vragte.

Ja, ja, ek weet hulle probeer darem nog werk, maar genade waar moet mens ry?

Toe sien ek hoe staan ‘n blondekopdogtertjie kiertsregop agter op ‘n bakkie wat nie stadig gery het nie. Lyk my party mense kan nie dink nie.

Dis een van die gevaarlikste goed om te doen. Hoe kan enige ouer dit toelaat? Is hulle in ‘n ongeluk, of slaan die bestuurder skielik rem aan en sy val daar af?

Dan moet ek weer ‘n artikel doen om vir fondse te pleit vir die arme kindjie wat in ‘n staatshospitaal lê en die privaat hospitaal wat so duur is en die ouers wat nie mediesefonds kan bekostig nie.

Strooi! Daai spesifieke bakkie was baie meer werd as myse Mich. Tussen al die irritasies en frustrasies deur het ek darem onthou dis amper Somer en anders as die eerste keer, lyk my naels na twee ‘n week steeds mooi. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button