Ekstra chromosoon, ekstra dosis liefde
VANDERBIJLPARK - Om ware liefde en 'n vol lewe te geniet word nie aan perfeksie gekoppel nie, maar aan uniekheid. En hiervan kan 'n ma van 'n Downsindroom-dogter getuig.
Milanka McDonald (25) het reeds baie uitdagings in haar lewe ervaar.
Sy het op 18-jarige ouderdom in 2018 haar vierde hartoperasie ondergaan. Die operasie is op 3 Augustus van 06:45 tot 13:00 by die Sunninghill-hospitaal gedoen.
Behalwe dat sy reeds opehartoperasies ondergaan het, is haar heupe ook op ‘n baie jong ouderdom ‘gepin’ weens Slipped capital femoral epiphysis (fraktuur deur die groeiplaat).

Die gevolg is dat haar bene baie stadig gegroei het, en dit het ook veroorsaak dat sy baie onaktief geraak het.
In 2020 tydens ‘n MRI-skandering is sy met Scheuermann’s disease gediagnoseer, asook ander vernouings op verskeie dele van haar rug.
“Daar moet dus hierdie jaar weer ‘n MRI gedoen word om die vordering daarvan te sien,. Ons vermoede is dus dat dit heelwat vererger het, as gevolg van die hoeveelheid pyn waarin sy verkeer.
Haar postuur het ook baie vooroor getrek,” vertel ma Tania.
Wat hierdie moeder se hart egter bitter seer maak is dat haar eens sprankelende dogter, haarself nou heeltemal onttrek van enige sosiale uitstappies saam met die res van die gesin.
Die loop is eenvoudig te pynlik vir haar!
Haar ouers is nou besig met ‘n fondsinsameling (waaronder ‘n gholfdag op 24 Oktober by Emfuleni Gholfklub), met die hoop om die las van die las van die uitstaande gelde van haar 2018 hartoperasie te kan aflos.
Indien moontlik wil hulle ook vir haar ‘n elektroniese rolstoel aanskaf sodat sy weer saam met die gesin op uitstappies kan gaan, asook ‘n tipe rolstoel (as moontlik elektries) sodat sy meer gemalik kan rondbeweeg veral buite die huis!

‘n Ekstra chromosoon
Downsindroom is ‘n genetiese toestand wat veroorsaak word deur die teenwoordigheid van ‘n ekstra chromosoom 21, en word dikwels verkeerd verstaan.
In plaas van ‘n versperring, kan dit as ‘n unieke manier van wees gesien word. Kinders met Downsindroom is, net soos ander kinders, individue met hul eie persoonlikhede, drome en talente.
Hierdie kinders het ‘n besonderse vermoë om liefde te gee en te ontvang. Hulle word dikwels beskryf as mense met empatie wat baie sagmoedig en vreugdevol is.
Hul openhartigheid en onskuld het ‘n manier om die wêreld rondom hulle op te helder.
Bewustheid van Downsindroom help om stereotipes en vooroordele af te breek. Deur stories en ervarings van kinders en hul gesinne te deel, kan ons ‘n beter wêreld vir almal skep.
Hierdie kinders herinner ons daaraan om die lewe se eenvoudige vreugdes te waardeer en om onvoorwaardelik lief te hê.
