NewsNews

Die kinders lag, die grootmense huil en die onnies hardloop rond

Elke jaar trek skole en instansies saam by die Eureka Skool vir kinders met erge fisiese en verstandelike gestremdhede vir 'n spesiale sportdag. Lees meer...

VEREENIGING – Die dag is afgeskop met ‘n dansie op die maat van Lyfie. Van onder al die gazebo’s het die atlete van die verskillende skole en instansies opgewonde saamgedans.

Regs: Absolute vreugde. Hy het nie gewen nie, maar hy het die rolstoelresies onder groot toejuiging voltooi. Foto’s Gerda Bruinette

Na die amptelike verwelkoming deur Eureka Skool se hoof, Johan Erasmus, kon die dag se verrigtinge begin.

Dit was tyd vir Eureka Skool se Spesiale Sportdag 2025. Van die skole wat deelgeneem het was Eureka van Vereeniging, Lewensligsentrum Vanderbijlpark, Con Amore van Kemptonpark en Felicitas van Brakpan.

Die vryheid om te kan deelneem, al moet iemand jou help. Dis die vreugde op die kinders se gesigte wat al die harde werk en organisasie van die dag die moeite werd maak.

Personeel en studente van NWU Vaal kampus het soos gewoonlik kom hand bysit om toe te sien dat alles glad verloop. Daar is begin met die kruip-resies.

Menige trane het gevloei en stemme is hees geskree om die dapper kinders aan te moedig. Baie van hulle kan net hul arms gebruik om hulself vorentoe te trek.

Daar was nie wenners en verloorders nie. Vir elke deelnemer wat kon klaarmaak was dit ‘n wen en het hulle ‘n aanknip balkie gekry.

Van kruip na die rolstoele. Die rolstoelresies sorg elke jaar vir baie opwinding met ‘n paar juffrouens en vrywilligers wat sommer ‘n hele paar keer ‘n kind in ‘n rolstoel tot by die eindstreep moes kry.

Die kinders in elektriese stoele kon self by die eindstreep kom. Om die baan en by die eindstreep het die ondersteuners bankvas gestaan en elke rolstoelatleet is met groot ywer aangemoedig. Die verskillende veld items het saam met die naellope afgeskop.

Daar was doelskop, waar leerders die bal in ‘n doelhok moes skop. Elkeen het drie beurte gekry en ‘n balkie.

Een van die jongmanne het die aksie so bekyk. Geduldig in die ry gewag en toe dit sy beurt is, het hy ernstig die bal geneem, dit op die merk geplaas, ‘n hele paar treë teruggestaan, die doelhok beloer en toe soos ‘n wafferse Springbok losskakel die sokkerbal soos ‘n rugbybal geskop.

Wanneer jy ‘n sokkerbal soos ‘n wafferse Springbok losskakel tref.

Atlete kon ook doele gooi en ‘n tennisbal met ‘n bofbalkolf slaan. By die naellope was daar georganiseerde chaos, maar uiteindelik het almal van die jongste leerders met Downsindroom tot by die o21’s hul beurt gehad.

Die klem was op deelname. Elke leerder is aangemoedig asof hul op pad was om ‘n eerste plek by die Olimpiese Spele te behaal.

Die vreugde van die leerders wat die 80m en 100m kon klaarmaak is onbeskryflik.

Vir ander mag dit na niks lyk nie, maar vir hierde atleet was dit ‘n oorwinning om te kon deelneem.

Eureka Skool se personeel het weer ‘n uitmuntende dag bymekaar gesit en almal het dit geniet.

Selfs die weer het saamgespeel en dit was moeë maar tevrede leerders wat weer in hul onderskeie skoolbussies geklim het om huis toe te gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button