Meer druk op huishoudings!
'n Ooreenkoms tussen die Nasionale Energiereguleerder van SA (NERSA) en Eskom, sal daartoe lei dat verbruikers oor die volgende drie jaar 'n bykomende R54 miljard aan kostes sal dra deur hoër elektrisiteitstariewe.
Volgens die ooreenkoms sal elektrisiteitstariewe 3.4% in 2026/27 styg, wat die totale verhoging vir daardie jaar op 8.76% te staan bring; en 2.63% in 2027/28, wat die algehele verhoging vir daardie jaar tot 8.83% opstoot.
Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (SALGA) het sy kommer hieroor uitgespreek en gesê dat dit “ekonomiese pyn” vir huishoudings en munisipaliteite sal wees.
Suid-Afrikaners worstel reeds met stygende voedselinflasie, hoër brandstofpryse en toenemende lewenskoste. Hierdie nuwe elektrisiteitsverhogings dreig om baie huishoudings verder in swaarkry te dompel en verdiep die bekostigbaarheidskrisis.
“Vir munisipaliteite is die fiskale risiko’s ernstig. Elektrisiteit is nie net ‘n basiese diens nie, maar ook ‘n sleutel-inkomstroom wat die kruissubsidiëring van ander munisipale dienste ondersteun.
“Steiler tariewe lei dikwels tot swakker betalingsnakoming, onwettige verbindings, en verhoogde gemeenskapsontevredenheid, wat dienslewering ondermyn en munisipale finansies verswak,,” verduidelik die President van SALGA, raadslid Bheke Stofile.
“Hierdie tariefverhogings is nie net syfers op ‘n bladsy nie; dit loop die risiko om huishoudings dieper in armoede te stoot, munisipale finansies te verlam en ongelykheid te vergroot.”
Hoewel SALGA die dringende finansiële uitdagings wat Eskom in die gesig staar, erken, kan die deurgee van die koste van swak bestuur, historiese ondoeltreffendhede en beleidsvertragings aan verbruikers nie die oplossing wees nie.
Die Vereniging voer aan dat hierdie benadering ‘n siklus van onbekostigbaarheid en nie-nakoming verskans, wat uiteindelik die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf as ‘n geheel verswak.
Hulle eis nuwe oplossings en antwoorde.
