Local newsNewsNews

Vuurwapenmoles in Emfuleni se verkeersafdeling

'n Skokkende onthulling het aan die lig gekom in ʼn onlangse inspeksieverslag van die departement.

Verkeersbeamptes van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (ELM) se verkeersafdeling is in ʼn vuurwapenmoles verstrengel ná dit aan die lig gekom het dat drie diensvuurwapens verlore is, en meer as die helfte van die beamptes nie ʼn vuurwapen- bevoegdheidsertifikaat het nie.

Luidens die verslag is 103 vuurwapens aan die verkeersafdeling uitgereik, wat wissel van pistole, verskeie soort gewere en BXP-submasjiengewere.

Drie vuurwapens, waaronder ʼn CZ75-9mm-pistool, ʼn Berreta-9mm-pistool en ʼn B18885Z-jaggeweer word egter vermis.

“ʼn Saak oor die vermiste wapens is by die polisie aanhangig gemaak, maar die VF Plus soek duidelikheid oor hoe die dit verdwyn het en of dit in enige misdaad gebruik is,” sê Raadslid Gerda Senekal van die VF Plus.

Dit blyk ook dat 34 uit die 61 beamptes nie oor ʼn bevoegdheidsertifikaat beskik vir die hantering van ʼn vuurwapen nie.

“Die Vuurwapenwet vereis dat enigeen wat ʼn vuurwapen hanteer, in besit van so ‘n sertifikaat moet wees.

“Sonder hierdie sertifikaat is hul besit of gebruik van vuurwapens onwettig en die munisipaliteit is nalatig om dit toe te laat.

“Die VF Plus eis dat die departementshoof, Aaron Makhudo, aan die munisipale raad moet kom verduidelik waarom sy departement in soveel chaos verkeer en nie aan wetgewing voldoen nie.

“Alle beamptes sonder bevoegdheidsertifikate moet ook dadelik hul diensvuurwapens inhandig totdat hulle die nodige opleiding voltooi en gesertifiseer is,” voer Senekal aan.

Indien ’n verkeersbeampte sonder ’n bevoegdheidsertifikaat ’n vuurwapen gebruik en iemand skiet, kan die implikasies ernstig wees en kan die munisipaliteit aanspreeklik gehou word aangesien hy toegelaat het dat dié beamptes wapens dra in stryd met die wet.

Hierdie situasie skep ernstige vrae oor die verkeersafdeling se bestuur, toesig en nakoming van wetlike vereistes.

“Die VF Plus sal druk op die departement plaas om te sorg dat daar meer gereeld inspeksies plaasvind om te verseker dat verkeersbeamptes binne die wet optree,” sluit Senekal af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button