VANDERBIJLPARK – Die hoofbestuurder van MooiVaal Media, Thys Foord of dan Baas Thys soos wat almal hom genoem het, is Vrydag vir oulaas gegroet.
Thys het afgetree na 24 jaar by MooiVaal Media. Tydens die kort geselligheid wat vir hom gehou is, het menige trane gevloei, maar daar is ook lekker gelag vir die administrasiespan se vertoning van ou foto’s.
Dis alles herinneringe wat mens in jou hart saamdra. Thys het die span sterkte toegewens en gesê hy sal sy oog op die koerante hou om seker te maak die standaarde bly hoog.
Woorde is kort gehou, want emosies het lang toesprake moeilik gemaak. Anneline Havenga, tans hoof van die administratiewe afdeling het gesê: “Baas Thys, jy het my grootgemaak. Ek het alles wat ek weet by jou geleer.”
Voordat daar met ywer aan al die lekkernye op die tafels aandag gegee is, het elke afdeling eers gesorg dat hul ‘n foto saam met Thys kry.
Ons wens hom net voorspoed toe op sy pad vorentoe en hoop dat hy sal onthou om elke week die Vaalweekblad te lees.
