VANDERBIJLPARK – Loslitdag, 5 September was die inwoners van Jeugland Tehuis vir Bejaardes opgewonde oor die vooruitsig dat Helpende Hand Vanderbijlpark-tak saam met AVBOB Vanderbijlpark weer by hulle kom kuier.
Daar was egter nog ‘n verrassing. Van die inwoners van Lewenslig, ‘n sentrum vir volwasse gestremde persone het ook ‘n draai kom maak.

Nie net het die Liggies vir die bejaardes gesing nie, hulle het die belangrike taak gehad om ereondersteuner sertifikate aan die inwoners bo 80 jaar uit te deel.
Dit is deel van Helpende Hand se projek om dankie te sê aan bejaardes en persone met gestremdhede vir wat hulle oor die jare gedoen het.
Die rol wat hulle in die gemeenskap gespeel het in hul onderskeie beroepe en die rol wat hul steeds het om te speel.
Op Helpende Hand se webtuiste word die ere-ondersteuners projek so verduidelik:
“By Helpende Hand glo ons bejaarde persone en persone met gestremdhede het hul eie sterkpunte en gawes wat hulle met Helpende Hand en hulle gemeenskappe kan deel.
“Hulle het hul eie godgegewe talente wat saam met Helpende Hand se fokus op maatskaplik gebaseerde gemeenskapsontwikkeling werklik ‘n volhoubare verskil kan maak.
“Hulle kan ook ‘n pilaar van hoop in hul gemeenskappe wees en hierdie hoop saai waar hulle geplant is.
“Daarom het Helpende Hand ons Ere-ondersteunersnetwerk bekendgestel. Dié netwerk bestaan uit ondersteuners wat 80 jaar of ouer is en ondersteuners met gestremdhede wat saam droom en in die toekoms glo.
“Helpende Hand is trots op ons ere-ondersteuners en nooi jou vandag om jou vriende en familie met gestremdhede en dié wat 80 of ouer is te help om gratis by Helpende Hand aan te sluit as Ereondersteuners.
“Maak hulle deel van ‘n familie wat omgee en saamstaan. Gee vir hulle ‘n plekkie om te behoort.”
Vrydag was die boodskap aan elke inwoner duidelik: “jy is steeds die moeite werd en het ‘n doel en ‘n plek om te vul waar jy is.”
Die inwoners was ingenome met hul sertifikate waarop elkeen se naam gepryk het en die Liggies het gesorg dat elke sertifikaat met ‘n groot drukkie oorhandig word.