RUBRIEK – In die laaste tyd het ek nogal baie stories gedoen by verskeie tehuise vir bejaardes in die Vaaldriehoek. Altyd die een of ander organisasie wat nou iets spesiaals reël vir die ooms en tantes.
Dan kry die inwoners fraai kolwyntjies wat saam met hul tee bedien word en iemand sing vir hulle. Gewoonlik kerkliedjies of redelik stemmige goed.
Was nou die dag darem by een waar die sanger met ‘n paar Elvis liedjies losgetrek het, en mens kon sommer dadelik sien wie het in die Elvis-era grootgeword en vir wie was dit sommer net lawaai.
Praat ek toe so op ‘n stadium met een van die oorde se bestuurders. Sy is nog jonk en haar hele span is jonk. Hulle probeer hard om die inwoners bietjie uit hul kamers en huise te kry sodat hulle meer aktief betrokke kan raak.
Dis toe dat dit my skielik tref, Generasie X is die volgende lot wat by die ouetehuise en oorde gaan begin inboek.
Vir die wat nie weet nie, die Amerikaners gee ‘n naam vir elke generasie nou al hier van voor die Eerste Wêreldoorlog af. Elke generasie is so 20 jaar uitmekaar gebore en verskil drasties van mekaar.
Generasie X is die lot wat so van middel 60’s tot vlak in die 80’s besluit het om die aarde te betree. Die kinders van die 70’s, tieners van die 80’s en studente van die 90’s.
Ek klassifiseer onder een van hulle. En as ek my tydgenote so bekyk, dan gaan die huidige tehuise vir bejaardes dit nie vir ons doen nie. Met die oudstes onder ons wat die 60 merk bereik het, en die meerderheid nou in hul 50’s, is ons net anders as wat ons ouers op ons ouderdom was.
Vir een het ons nog nooit afgeleer om na musiek van die 80’s te luister nie. Ons gaan ook nie. So ouetehuisbestuurders sal moet weet van Falco tot by ACDC, Bruce Springsteen tot by Prince gaan steeds opklink.
Koek en tee werk ook nie vir ons nie. Ons braai en drink alles wat saam met ‘n braai gepaard gaan. Stil en stemmig gaan jy ons nie kry nie. Veral nie as ons rugby of krieket kyk nie. Ons gaan nie ophou om dit te kyk nie.
Ons kan erg hardkoppig raak en “ek sal self” was ons eerste woorde en sal 10 teen een ons laastes ook wees. Vergeet dit om te veel reëls te hê.
Onthou, ons het in die tyd skoolgegaan waar onderwysers jou geslaan het omdat hy of sy die dag in ‘n verkeerde bui was. Ons het nog twee periodes elke Vrydag op die veld gedril. Ons het ons onderwysers hoofpyn en gryshare gegee en ons gaan nie ophou nie.
Ek het haar gewaarsku. Ons is op pad. Sy het gesê dis reg hulle werk daaraan om ‘n gin-trollie te kry en happy hour in te stel. Sela!