Oom Paul is op pad!
Dit lyk net soos die ware Jakob ... of in die geval Paul, maar in der waarheid is dit 'n 1,5 ton replika van die Paul Kruger-standbeeld wat onderweg is na 'n nuwe tuiste in Orania.
Die replika het op 24 September 2024 met die 1 600km tog begin.
Die nuwe standbeeld, gegiet deur Jacques Müller, ‘n beeldhouer en skilder van Pretoria, is ‘n replika van die oorspronklike Kruger-standbeeld deur Anton van Wouw.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het ‘n 3D-skandering van die beeld laat doen en dit toe in brons laat giet.
Die koste om die beeld te giet, ‘n voetstuk te bou en die beeld op te rig beloop R2,6m.
Die projek is van stapel gestuur omdat die Kruger-beeld op Kerkplein in ‘n omgewing is gekenmerk deur verval en misdaad.
Vir baie Afrikaners was dit nie meer aanvaarbaar nie.
Op pad na Orania sal oom Paul deur verskeie dorpe reis en by 10 uitgesoekte plekke stilstaan, elk met ‘n eie feesprogram.
Deel van die feesvieringe sluit in ‘n opvoering van die NP van Wyk Louw-toneelstuk, ”Kruger breek die pad oop“.
Die toneelstuk handel oor die lewe van Kruger en die moeilike besluite wat hy moes neem om wet en orde in Transvaal te bring.
Daar word beplan dat die beeld op 2 Oktober in Orania sal arriveer. Die amptelike onthulling is op 10 Oktober (Paul Kruger se 200ste verjaarsdag) in Orania se nuwe stadskern, naby die beplande stadsplein.
Volgens die optog-program sal die beeld op Saterdag 27 September sy weg vind deur Heidelberg, op Sondag 28 September in Parys en op Maandag 29 September in Vereeniging (by die Vredesonderhandelingterrein). Daarna gaan die beeld weer terug tot in Parys by Udolpho op 29 September.

Die program in Vereeniging by die Vredesonderhandelingsterrein
10:00 – Opening
10:10 – Toespraak: Kruger in konteks
10:20 – Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk se Lewende geskiedenis-optrede
11:00 – Sertifikaatoorhandiging (Bedankingsoorkonde aan instansie wat leiding geneem het met die program)
11:10 – Tee en koffie
11:30 – Vertrek na Vryheidsmonument/Vredesmonument vir vinnige toer.
Program by Udolpho
18:00 – Opening
18:10 – Deo Gloria Koor
18:30 – Toespraak: Kruger in konteks
18: 40 – Sertifikaatoorhandiging
18:45 – Toneel: Kruger breek die pad oop
20:00 – Koffie en tee
* Mense kan hul naam verewig op die nuwe plein waar die Kruger-standbeeld ’n tuiste sal kry deur ’n simboliese steen te koop. Gaan na https://www.orania.co.za/paul-kruger vir meer inligting.