VEREENIGING – Sy is skaars 17 jaar oud, maar Cathy van Staden, ’n graad 11-leerder van Hoërskool Overvaal, is reeds besig om haar merk in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf te maak.
Met ’n rol in die gewilde sepie Binnelanders agter die blad en ’n kortfilm wat binnekort geskiet gaan word, is dit duidelik dat hierdie jong aktrise nog hoog en lank in die hemelruim gaan pronk. Cathy se liefde vir toneelspel het as sesjarige begin, toe haar ouma haar vir dramaklasse ingeskryf het.
“Ek het nog altyd ’n passie vir optree gehad. Vanaf ek klein was sou ek sommer op ’n verhoog klim en begin dans, sing of sommer net met die mense praat,” vertel sy met ’n glimlag. Van daar het sy in elke skoolproduksie opgetree en die res is geskiedenis.
Buiten toneelspeel vind Cathy haar kreatiewe uitlaatklep in musiek en skryfwerk. Sy skryf haar eie stories, maar ook haar eie liedjies en gebruik dit as deel van haar voorbereiding vir kompetisies. By die Del Arte en Vereeniging Kunstefees het sy vanjaar al haar eie stukke voorgedra en verskeie A+++ behaal.
“Ek het elke dag vir ’n uur my stukke geoefen en dit dan vir my ouma opgevoer. Sy het my gehelp om die beste uit myself te bring,” sê sy trots.
Haar groot deurbraak het gekom toe sy die oproep van haar agent ontvang het: “Hello Caths, jy’t die rol vir Binnelanders gekry, hulle soek jou môre oggend hier.” Na drie jaar se werk agter die skerms as ’n agtergrond-aktrise, het haar harde werk vrugte afgewerp.
“Ek was oorweldig van blydskap en so trots. Al wat ek kon dink, was dat ek gewens het my oupa was daar om dit saam met ons te vier,” onthou sy. Op die stel van Binnelanders het sy nuwe dinge geleer.
“Ek het altyd gedink hulle skiet in ’n regte hospitaal, maar dit was nie so nie. Hulle werk maande vooruit, en ek het gesien hoe hard die hele span werk. Die passie van die akteurs en die tegniese span inspireer my ongelooflik,” sê sy. Nou wag nóg ’n avontuur: in Oktober begin die verfilming van ’n kortfilm waarin sy ook ’n rol speel.
“Ek mag nog niks verklap nie, maar ek kan sê dit gaan ’n must watch wees,” sê sy geheimsinnig. Wanneer sy oor die toekoms praat, is Cathy se oë vol sprankel en drome. Sy wil alles aandurf. Van gruwel en drama tot komedie, musiekteater, aksie en selfs romanse. Ná skool beplan sy om drama aan PALIE in Pretoria te gaan studeer.
“Ek wil myself verder ontwikkel en nog meer leer oor my passie,” verduidelik sy. Sy het ook ’n sterk boodskap vir ander jong mense wat droom om op die verhoog of televisie te verskyn: “Volg jou drome. Niemand kan dit vir jou bereik nie.
Jy moet self agter dit aanhardloop. Volg jou passie, want sonder passie is die werk baie moeiliker. Bly nederig, onthou waar jy vandaankom en wie jou gehelp het.
En werk altyd hard.” Met daardie ingesteldheid, haar kreatiewe talent en haar onwrikbare passie, is dit net ’n kwessie van tyd voor die hele land Cathy van Staden se naam ken.
