Local newsNewsNews

AfriForum veg voort teen omstrede Wonderfontein-ontwikkeling

Die klagte, wat meer as 100 bladsye beslaan en op 9 September deur AfriForum se regspan ingedien is, sluit die gemeenskap se bekommernisse, bewyse van nalatigheid rakende die ontwikkeling en die regsagtergrond volledig in.

SASOLBURG – AfriForum het ’n omvattende klagte aan dr. Mbulelo Nokwequ, hoof van die Vrystaatse Departement van Ekonomiese en Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake (Destea), gestuur oor die omstrede ontwikkeling wat tans in die Wonderfontein-gebied plaasvind.

Die klagte is ook aan die direkteur-generaal van die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye gestuur, met die versoek om dringende ondersoek.

Die departemente het tot 29 September om op die klagte te reageer. Indien AfriForum geen terugvoer ontvang nie, sal verdere stappe oorweeg word.

AfriForum het verskeie ernstige onreëlmatighede rakende die ontwikkeling in die klagte uitgelig, waaronder die kwessie dat die projek voortgaan sonder dat die nodige tribunaalvereistes nagekom is.

Boonop is daar ’n gebrek aan bulk-infrastruktuur soos stormwaterstelsels, padnetwerke en rioolstelsels.

Verder borrel daar groot hoeveelhede grondwater op waar swaar masjinerie gebruik word, wat die ontwikkelaar noop om die water na ’n nabygeleë plaas af te pomp.

Die organisasie maak ook melding daarvan dat geen volledige en bygewerkte omgewingsimpakstudie bekom kon word nie.

Intussen duur AfriForum se hofsaak teen die Metsimaholo Munisipaliteit, die Departement van Menslike Nedersetting en die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling voort.

Hierdie hofsaak, saam met die nuwe klagte, poog om die projek stop te sit totdat alle wetlike vereistes en vereistes rakende die infrastruktuur nagekom word.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die ontwikkeling nie tot voordeel van die gemeenskap nie en hou dit die potensiaal in om die omgewing onherstelbaar te beskadig.

“Die reeds besoedelde Vaalrivier loop die gevaar om verder besoedel te word indien riool en afval nie behoorlik bestuur word nie.

“Ons gaan nie stilsit terwyl onwettige prosesse en swak beplanning die toekoms van die gemeenskap en die omgewing in gevaar stel nie,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum eis dat die betrokke departemente dringend ingryp, dat die ontwikkeling stopgesit word totdat alle vereistes nagekom is en dat nalatige amptenare en ontwikkelaars aanspreeklik gehou word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button