Stééds geen veilige water vir Parys-inwoners
PARYS - Die burgerregteorganisasie hou vol dat watervoorsiening agteruit geboer het sedert Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se hoof van Water en Sanitasie, Mokete Phele, se aanstelling.

Die beleërde Phele spog sedert verlede week met ’n doktorsgraad in Chemie, maar kon volgens AfriForum in die agt jaar sedert hy in dié posisie aangestel is stééds geen verbetering in die voorsiening van veilige drinkwater vir inwoners bring nie.
AfriForum dring nou aan op deursigtigheid rakende die koste van Phele se nagraadse studies en eis dat, indien Ngwathe die koste daarvan gedra het, Phele die volle koste daarvan aan die munisipaliteit moet terugbetaal.

Phele, wat sy graad aan die Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT) verwerf het, is op die munisipaliteit se Facebookblad vir sy prestasie geluk gewens met die woorde: “Ngwathe Local Municipality at work!”
AfriForum bestempel dié aanprysing te midde van jare se powere prestasie ten opsigte van veral watervoorsiening as ’n klap in die gesig van inwoners.
Die sosialemediaplasing kondig boonop met trots aan dat dié munisipaliteit se aantal doktorsgraadhouers onder die stuur van Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. Futhuli Mothamaha, aangroei.
Die VUT-plegtigheidsbundel bied onder meer ’n opsomming van Phele se navorsing. Dié opsomming word soos volg ingelui: “Water word beskou as die belangrikste natuurlike hulpbron vir die volhoubaarheid van lewe, maar varswaterstelsels word direk deur besoedeling bedreig.”
Ondanks dié stelling gaan Ngwathe onder Phele se leiding gebuk onder die einste krisis van besoedeling.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is dit duidelik dat die gaping tussen teorie en praktyk nou sodanig is dat selfs sogenaamde kenners van waterwese nie eens die krisis in eie geledere kan oplos nie.
“Phele het reeds in Februarie 2023 beloof dat indien inwoners in Ngwathe nie binne ses maande water het nie, hy uit sy pos sal bedank. Dit is reeds ’n jaar en ’n half later en inwoners moet steeds tevrede wees met droë krane of gekontamineerde water.
“Uitgebreide geleerdheid is nutteloos as dit nie in die praktyk grondslag vind nie, en met byna ’n dekade van mislukkings blyk dit dat Phele se graad nie die papier werd is waarop dit gedruk is nie,” sê Pretorius.
