Local newsNewsNews

Rubriek: Pollard of Libbok wie de@@#$ gee om?!

Solank die Bokke wen is die Kaap weer Hollands

Vir een of ander rede beskik die uwe oor die ongeëwenaarde vermoë om geskiedkundige sportgebeurtenisse mis te loop. As dit nie die beroemde 438-wedstryd tussen Suid-Afrika en Australië is nie dan is dit die Springbokke se rekordoorwinning (43-10) oor die All Blacks.

Dank vader vir tegnologie. Hoewel mens die wedstryd, asook die hoogtepunte na hartelus oor en oor kan kyk, bly dit nie dieselfde nie.

Terwyl die Springbokke verlede Saterdag in Wellington besig was om die Nieu-Seelanders te verrinneweer, was my lens op die verhoog van die Etienne Rousseau gefokus. Hoe dan anders?

Dit is mos die Vaaldriehoek se Kunstefees vir dans. Maar wanneer Alan Donald en Lance Klusener op Edgebaston in Engeland ‘n gulde geleentheid wegsmyt om tot Wêreldbekerkrieketeindstryd deur te dring, moet ek maar vasbyt en in stilte aan ‘n sportberoerte beswyk. Na die Springboktoer in die Land van die Lang Wit Wolk met ‘n treurige nederlaag afgeskop het, het die losskakel debat onder Springbok-ondersteuners weer vlamgevat. Die spil waarom alles gewentel het, is Pollard of Libbok.

Die een is mnr. Betroubaar met ‘n skopvoet van goud en die ander is mnr. Warm en Koud. Pollard het tydens die onlangse Wêreldbekertoernooi gewys dat daar yswater in sy are is en dat hy vir groot oomblikke gebore is. Libbok is ‘n borrellende fontein van talent en jeug. Skouspelagtig, maar onvoorspelbaar soos die weer.

Na die rekordsege die naweek oor die All Blacks word statistiek en kennis deur Jan Alleman rondgegooi. Die ek-het-jou-gesê kwaal trek baie manne plat. In plaas van om die spogsege te geniet vir wat dit is, word ons nasie oorval met die ou Boere-kwaal om onder mekaar te baklei. As ons saamstaan kan niemand ons klop nie.

Pleks daarvan om vir Cheslin Kolbe te bedank dat hy weer die vonk verskaf het om die Bokke se kruitvat aan te steek, vermors ons energie met nuttelose binnegevegte. Na ‘n paar stywe brandwyne is almal mos rugbykenners.

Toe Dr. Rassie Erasmus se proefnemings teen die Britse en Ierse Leeus misluk het, het almal gal gebraak oor ‘n reeks-nederlaag. En tog het sy “waansin” nie 100 jaar daarna nog ‘n wêreldbekertitel besorg. Kyk Libbok was Saterdag vuurwarm, maar so ook Damian Willemse wat op binnesenter ‘n wêreldklas-vertoning gelewer het. Dis onregverdig om enigeen uit te sonder.

Die Springbokke is nie meer die volgelinge in wêreldrugby nie. Ons gee die pas aan. Ja, Rassie se Paul Roos-lynstaanbeweging sal nou nie as die suksesvolste loopgraaftaktiek in die geskiedenis van rugby aangeteken word nie, maar een ding is verseker, Rassie het guts. Hy is nie bang om dinge te probeer nie. Hy hou almal en soms homself aan die raai, maar sonder sy leierskap en passie is ons verlore. Dis tyd dat ons ondersteuners begin glo en saamstaan. Een drag maak mag! Staan sterk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button