Binnekort Bokkieweek in Meyerton
Sportliefhebbers van regoor die land sal in Meyerton saamkom vir dié jaarlikse hoogtepunt op die sportkalender.
MEYERTON – Bokkieweek se gewilde Somerweek vind vanjaar van 7 tot 11 Oktober weer in die Vaaldriehoek plaas.
Die Somerweek bied ’n wye verskeidenheid sportsoorte om na uit te sien, naamlik sewesrugby, T20-krieket, Snelbal (fast five netball), Gholf en Woemahokkie (six-a-side hockey).
Die toernooi se opening vind op Dinsdag 7 Oktober om 17:00 plaas. Net na die opening vind die eerste wedstryde in 7’s-rugby plaas.
Hiermee word ‘n week vol hoofsaaklik vinnige sportsoorte afgeskop vir ’n week van aksie. Spanne gaan mekaar regdeur die week die stryd aansê.
Al die spanne neem op 11 Oktober deel om hul finale plek op die rangorde te bepaal. Ná afloop van die wedstryde word die AVS Nasionale Spanne tydens die prysuitdeling aangekondig.
Volgens ds. Peter Stans, die stigter en uitvoerende hoof van Bokkieweek, is Somerweek nie net ’n sporttoernooi nie, maar ook ’n kultuurbelewenis:
“Tydens hierdie week kom sporttalente van regoor die land bymekaar om hulle liefde vir sport vol vreugde en sonder spanning uit te leef. Dit is inspirerend om dit saam te beleef.”
Bokkieweek nooi die publiek uit om Somerweek 2025 by te woon.
