VEREENIGING – Die dames van die VLU Alpha-tak het onlangs by Krugerlaanskool gaan kuier en 600 worry worms wat hulle self gehekel het aan elke leerder oorhandig.
Verder het die 14 dogters in die DCAPS-stroom ook elkeen ‘n groot sak vol lekkernye en toiletware ontvang.
Krugerlaan het die VLU Alpha-tak hartlik bedank. “Wat ’n heerlike dag het ons gehad toe die dames van die VLU Alpha-tak by ons kom kuier het! Julle het soveel vreugde, liefde en bederf saamgebring dat dit voel asof ons harte nog steeds glimlag.”
Die VLU dames het ‘n bedrywige September beleef. Begin van dié maand het hulle weer die jaarlikse kongres in Bloemfontein bygewoon en dit baie geniet.
Vrystaat VLU het deur die jaar skryfbehoeftes ingesamel, wat aan Burre Burger oorhandig is.
Hierdie skryfbehoeftes sal nou versprei word na die kinders van boere wat tans onder erge droogtes gebuk gaan.
