VEREENIGING – Verlede jaar het Vaalweekblad berig oor Ouma Meisie (Schoeman) van Tonder se 100ste verjaarsdag.
Vir die dag het vier geslagte saamgekom om Ouma se groot dag te vier. Haar enigste dogter, Lyzette Mong het die week die hartseer nuus gedeel dat haar moeder op 19 September oorlede is.
“My ma was tot op die laaste nog helder van verstand en het geen medikasie gebruik nie. Sy het die oggend nog gevra sy wil al my kinders sien,” vertel Lyzette.
Ouma Meisie is aan natuurlike oorsake oorlede in Aandblom Versorgingsoord waar sy al geruime tyd gewoon het.
Meisie is in 1924 in die Noord-Kaap gebore. Anders as die meeste van haar tydgenote, het sy nie net matriek geslaag nie, maar ook ‘n graad in huishoudkunde voltooi.
Nadat sy met Casper Schoeman getroud is, het die egpaar Vereeniging toe getrek. Casper was van Vereeniging en het Fuchs besit.
Die egpaar het drie seuns en ‘n dogter gehad. Al drie seuns het soos hul pa elektrisiëns geword. ‘n Ernstige motorongeluk het egter Christo se lewe geëis en Meisie in ‘n koma gelaat.
“My ma moes na die ongeluk weer leer loop, maar sy het net aangehou. Binne drie jaar na die ongeluk het sy onder andere spyseniering gedoen, ‘n koffiewinkel in die Johan Griessel ou Vereeniging-hospitaal, die OK Basaars kantien en die Riviera Country Klub bestuur,” vertel Lyzette trots.
Meisie was ook dosent by die voormalige Vaaldriehoek Technikon waar sy voedseldiensbestuur aangebied het. “My ma het tot op 84 gewerk en op 85 opgehou bestuur. Nadat sy op 90 jaar geval en haar heup gebreek het, kon sy nie meer op haar eie bly nie.”
Lyzette se broers is almal al oorlede, maar die meerderheid van Ouma Meisie se nege kleinkinders, 13 agterkleinkinders en een agter-agter kleinkind is nog in die Vaaldriehoek.
‘n Feesviering van haar lewe vind op 2 Oktober om 14:00 vanuit Lux Deo Arconpark (23 Lawn Avenue in Arconpark), plaas.
