VANDERBIJLPARK – In die 80’s het almal een gehad. ‘n Rubik-kubus. Party kon die kleure weer maklik bymekaar pas, ander het opgegee en van ons het doodeenvoudig die plakkers afgetrek en die kleure oorgeplak.

Vandag word dié 3-D kombinasielegkaart nog steeds vervaardig, maar lankal nie net meer in die vierkantige blokke nie. Daar is allerhande grotes, vorms en kante.
Een van Laerskool D.F. Malherbe se graad vyf leerders het al goed gevorder om verskeie van hierdie vorms onder die knie te kry.
Craig Peeters sê sy ouma het sy eerste kubus vir hom gekoop, maar nadat hy verstrengel daarin geraak het, het sy tannie hom uitgehelp en ‘n paar wenke gegee.
Tydens een van die dorp se vele beurtkragsessies het die gogga gebyt en het hy al hoe meer tyd aan die Rubik-kubusse bestee.
Eindelaas het hy geregistreer by die World Cube Association en van 6 – 7 September het hy saam met ongeveer 70 ander entoesiaste aan ‘n kompetisie deelgeneem.
Craig sê elkeen kies in watter en hoeveel kategorieë hulle wil deelneem. Jy weet dus wat jy gaan kry, maar nie die skommeling daarvan nie. Groepe van 15 kry elkeen vyf beurte en dan word elkeen se beste gemiddelde spoed geneem om die wenners te bepaal.
“Ek het aan vyf deelgeneem en het elke keer onder die top 20 of 30 beland,” vertel hy trots na sy eerste volwaardige kompetisie.
Naas die tyd wat hy op die gekleurde breinknopers spandeer, is hy ook lief vir motorfiets ry, rugby speel en beplan hy om eersdaags bofbal op te neem.
