Local newsNewsNews

Mangels maak moles met Miandri (5)

Die 5-jarige kleinding kan mens nie vertel as iets verkeerd is of as sy nie lekker voel nie. Haar ouers pleit by die gemeenskap om hulle te ondersteun om 'n verskil in haar lewe te maak.

VANDERBIJLPARK – Sy is ‘n klein dogtertjie wat tot dusver nie ‘n maklike lewe gehad het nie, maar sy huil en kla nie sommer nie. Ongelukkig ervaar sy nou weer ‘n groot uitdaging en het die gemeenskap se hulp nodig.

Miandri Els (5) is op 38 weke gebore, en was met geboorte net 1.8kg. Omdat sy so klein was, moes sy vir ‘n week na haar geboorte in die Sebokeng-hospitaal deurbring. Sy is haar ouers, Tiaan en Malinda, se enigste kind.

In daardie stadium was die dokters en haar ouers nie bewus daarvan dat daar meer met haar fout was, behalwe dat sy baie klein was nie.

Miandri kan nie loop of praat nie, maar sy kan op die grond rondskuif en geniet haar rolstoel wat deur die kerk aan haar geskenk is. Foto’s: Elsje Vermeulen

“Miandri was sowat drie maande oud toe sy een naweek stuipe gekry het. Sy het sewe stuiptrekkings in een naweek gehad, wat beteken het dat sy weer vir twee weke in die hospitaal opgeneem moes word,” vertel Malinda. Tiaan werk tans weg van die huis en was nie teenwoordig toe Vaalweekblad gaan inloer het nie.

Dit was tydens die pandemie, wat tot gevolg gehad het dat haar ouers haar nie eers kon besoek nie. Maar Miandri kon uiteindelik huis toe gaan.

Daar is bevind dat die stuipe swelling aan die een kant van haar brein veroorsaak het.

“Ons het steeds nie ‘n diagnose vir haar nie, maar die dokters dink dat Miandri aan Serebrale gestremdheid ly,” vertel Malinda.

Serebrale gestremdheid (cerebral palsy, of CP) is ‘n afwyking wat beweging, postuur en koördinasie by kinders beïnvloed, wat beteken dat die kleinding twee keer so hard moet werk om die krag te kry om iets te doen.

Sy is ‘n spesiale behoefte-kind wat op die ouderdom van vyf nie kan loop of praat nie. Sy kan op die grond rondskuif, en het ‘n rolstoel waarin sy geniet om te wees. Miandri was 18 maande oud voordat sy op haar eie kon sit.

Malinda Els van Vanderbijlpark met haar kleinding op haar skoot.

Die Els-gesin behoort ongelukkig nie aan ‘n mediese fonds nie. Hulle probeer tans geld insamel omdat Miandri se ore en mangels probleme veroorsaak en haar deurlopend siek maak.

Om Miandri weer gesond te kry moet haar haar mangels so gou moontlik verwyder word, en sy het ook dreineringspypies (grommets) nodig.

‘n Dreineringspypie (grommet) is ‘n klein, hol buisie wat in die oordrom geplaas word. Die hoofdoel is om lug te laat sirkuleer in die middeloor, wat die druk balanseer en die opbou van vloeistof voorkom.

Behalwe vir die gesondheidsuitdagings is Miandri net soos enige ander kind lief vir speel, en om haar gunsteling TV-program (Coco Melon) te kyk.

Sy het ook onlangs by die Sanet Speelgroepie ingeskakel en geniet dit baie om tussen ander maatjies te wees.

Miandri Els (5) by haar gunsteling speelding, ‘n pienk Unicorn.

Indien die gemeenskap hul harte kan oopmaak sal dit tot groot voordeel van die klein vegtertjie wees. Klik op BackaBuddy om haar te help.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button