Valia kry nuwe netbal-ghoeroe
Sy is ‘n goeie voorbeeld van ‘n vakman wie se werk namens hom praat.
VANDERBIJLPARK – Daar word altyd gesê een swaeltjie maak nie Somer nie. Maar Monique Reyneke Meyer is die uitsondering op die reël.
Sy is ‘n goeie voorbeeld van ‘n vakman wie se werk namens hom praat.
Die voormalige Protea-netbalspeler is pas as die Hoërskool Transvalia se nuwe netbaldirekteur en hoëprestasie-afrigter aangestel.

Sy het die afgelope paar seisoene wonders by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus verrig.
Sedert sy die leisels van NWU Vaal se netbalspan oorgeneem het, het die span van krag tot krag gegaan.
Dit kan mens sonder vrees vir weerspraak sê. Die span het vir die tweede opeenvolgende jaar in die USSA-toernooi na ‘n hoër afdeling opgeskuif en sal aanstaande jaar in die A Premier-afdeling kragte meet.
Van 2019 tot 2023 het Meyer 32 keer vir die Proteas gespeel. Haar indrukwekkende loopbaan sluit onder meer deelname aan die TNL en Brutal Fruit-reekse, Varsity Cup Netbal en Engelse Super League in.
Sy is ook ‘n afrigter by Champs Netball Development en is deel van Sedibeng se uitvoerende komitee en sameroeper van die keurders.
