‘n Nuwe platform vir jong ontwerpers
Die wêreld van mode betree 'n nuwe era, gerig op talent van kinders.
VEREENIGING – Sy het ‘n passie vir die bevordering van kreatiewe vaardighede by jongmense, en dit het gelei tot die ontstaan van Thread Theory.
Charlene Keyser is ‘n mode-ontwerp-dosent en die kursuskoördineerder van die Mode Departement aan die Vaal Universiteit van Tegnologie.
Danksy haar ervaring in die onderrig van mode-ontwerp, bied sy nou ‘n mode-ontwerpprogram (Thread Theory) wat daarop gemik is om jongmense (8-18 jaar) te bemagtig deur hulle bloot te stel aan die wêreld van mode, asook die besigheidsaspek wat daarmee gepaard gaan.

“Die program kombineer tradisionele en tegnologies-gedrewe benaderings om kreatiwiteit, selfvertroue en besigheidsvaardighede by kinders en tieners te kweek.
“Ons gebruik gevorderde tegnologie soos Procreate en Affinity Designer vir digitale ontwerp, en ons beplan om binnekort ook Clo3D te integreer, wat leerders die geleentheid gee om 3D-kleremodellering te beoefen.
“Dit stel hulle in staat om ‘n voorsprong te kry in die vinnig-ontwikkelende mode-industrie,” verduidelik Charlene.
Daar is baie planne in die vooruitsig. Soos om om in Desember 2026 aan die South African Kids Fashion Week deel te neem.
“Die sal die eerste jaar wees wat die beste en mees unieke ontwerpe van ons studente gekies sal word om op die loopplank te vertoon.
“Na die vertoning word hierdie ontwerpe op kleinskaal geproduseer en verkoop,” sê Charlene.
Hierdie proses sal jong ontwerpers dus in staat stel om net te leer oor die mode-industrie nie, maar ook om ‘n inkomste te verdien uit die verkope van hul skeppings.
Charlene het die afgelope naweek ‘n uitstalling by River Square beman om entrepreneurskap onder jong talent in die gemeenskap aan te moedig.
Registrasies vir die 2026-inname is tans oop en sluit aan die einde van Januarie 2026. Die klasse sal ook in Vereeniging by die River Square Mall plaasvind.


