Grafte naby Wonderfontein verdwyn glo
Muller-familie wil weet waar oupagrootjie se grafsteen is.

WONDERFONTEIN – Die Muller-familie is geskok nadat hulle ontdek het dat ‘n familiegraf en nog ander grafstene glo net spoorloos verdwyn het.
Volgens Julande Muller van Balfour besoek haar familie die graf van haar man, Japie, se oupagrootjie, ‘’Slap” Helgaard Muller, ‘n bekende van die Vaaldriehoek, tot drie keer per jaar.
Die grafte wat op die Wonderfontein-plotte naby Vaalpark geleë was, is nou net weg. Hulle het die grafte 26 September besoek en foto’s van die leë stuk grond geneem waar die grafstene was.
“Die Bloekombome wat rondom die grafte was, is verwyder. Die grond waar die grafstene was toon tekens van onlangse werk. Ek wonder wie sou so iets doen? Waar is daardie grafstene nou?” wil Julande weet.
Volgens Japie het sy oupagrootjie destyds sowat 8 000 morge grond, van Duck Point tot Abrahamsrust (nou Vaal on View), besit.
“Ek verstaan nie wat die rede vir die verwydering van die grafstene is nie. Dis aan die bopunt van die plot. Ek kan nie dink dat dit enigeen kon pla nie,” vertel hy.
Volgens William Bothma, wat ook in die omgewing boer, is hy bewus van grafte wat destyds in die omgewing was. “My pa-hulle het destyds hier gemyn, maar het op ‘n gedeelte van die grond nie gemyn nie, omdat daar grafte was,” vertel hy.
Volgens Muller-hulle het die energiemaatskappy, Sasol destyds glo ook grafte in die omgewing met toestemming van die oorledenes se familie opgegrawe en elders begrawe.
Aldus Suid-Afrikaanse Wetgewing word grafte en begraafplase deur verskeie wette beskerm, soos die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (NEHW), Wet No. 25 van 1999, en die Wet op Menslike Weefsel (Wet No. 65 van 1983), en in sommige gevalle munisipale verordeninge wat begraafplase en opgrawings reguleer.


Kragtens Artikel 36 van die NEHW mag niemand ’n graf ouer as 60 jaar, of een wat menslike oorskot bevat, versteur, vernietig, opgrawe of verskuif sonder toestemming van die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAHRA) of die betrokke provinsiale erfenisowerheid nie.
Selfs onlangse grafte vereis toestemming. As die graf nie ouer as 60 jaar is nie, moet die nuwe eienaar steeds: Aansoek doen om toestemming by die Departement van Gesondheid (via die plaaslike munisipaliteit) om die oorskot op te grawe of te verskuif ;
’n Hofbevel of geskrewe toestemming van die oorledene se naasbestaandes verkry en sorg dat die opgrawing deur ’n geregistreerde begrafnisondernemer uitgevoer word.
*Vaalweekblad kon ten tyde sy besoek nie die privaat eiendom betree om self ondersoek in te stel nie. Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. ‘n Opvolgberig sal gepubliseer word wat nuwe verwikkelinge sal vermeld.
