Rubriek: Baie het in 30 jaar verander
Baie van my skoolvriende bly steeds in die Vaaldriehoek, maar vir diegene wat dekades laas in die Vaal was, moet hulle maar veiligheidsgordel vasmaak, want hulle is in vir ‘n wrede ontnugtering.
In 1995 het twee groot dinge in my lewe plaasgevind. Die Springbokke het die William Webb Ellis-trofee gewen en ek het matriek geskryf.
Vanjaar 30 jaar later skryf my oudste spruit haar eindseksamen. In die spieël kyk ‘n gryser, en hopelik wyser man, vir my terug. Die WhatsApp-groep vir die reünie is gestig en reëlings word getref vir die Hoërskool Transvalia se matriekgroep van 1995.
Tradisioneel is dit die hoofleiers se plig om hierdie taak te verrig, maar soos almal weet is die groep van 1995 uniek. In ons termyn op hoërskool is die skoolsaal afgebrand, hoewel die skuldiges oorkant die Vaalrivier moes gaan matrikuleer was dit deel van ons matriekgroep se nalatingskap.
Die brandstigters was immers vriende van my. Ek het besef ek is nou oud genoeg om die nostalgietrein te mag ry. Die vraag is wil ek? Net tyd sal leer. Die afgelope paar weke was bedrywig met die matrikulant in die huis wat haar praktiese eksamens in Montana in Pretoria (PTA) moes aflê.
Dit is na ‘n week in die Jakarandastad wat ek die Vaaldriehoek binne ry, dat ek besef hoe stelselmatige agteruitgang ons tevrede laat met ‘n gemorsspul. Daar’s nie ‘n enkele slaggat in Montana, Cullinan, of omliggende gebiede nie.
Vullis word verwyder, paaie is duidelik gemerk, daars geen waterlekke nie en verkeersligte werk. Die Vaaldriehoek onder Emfuleni se bestuur moet eerder as ‘n nasionale rampgebied verklaar word.
Ek bly my hele lewe in die Vaaldriehoek en die plek het op my gegroei, maar ek sal enige tyd iemand aanraai om in PTA te gaan bly.
Die DA se federale leier, John Steenhuisen het op 29 September die Emfuleni- en Midvaal-munisipaliteite as deel van sy landwye toer om die DA se Plan om die ekonomie te versnel uit te lig.
Die besoek het op die skerp kontras gefokus tussen die ANC-beheerde Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, waar infrastruktuur verval en besighede onder kragonderbrekings ly, en die DA-beheerde Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, waar beleggings floreer en werksgeleenthede geskep word.
Ek sou wat wou gee om Steenhuisen se werklike indrukke oor die streek te hoor. Nie die politikus nie, maar die mens se opinie.
Baie van my skoolvriende bly steeds in die Vaaldriehoek, maar vir diegene wat dekades laas in die Vaal was, moet hulle maar veiligheidsgordel vasmaak, want hulle is in vir ‘n wrede ontnugtering.
Terwyl die paaie rondom die HS Transvalia vergaan, het die skool vooruit gegaan. Ou rookplekke, die fietsloots en mnr. Thuynsma se metaalwerkklas lyk nie meer dieselfde nie. Die skool spog met top geriewe.
‘n Nuwe astro-hokkiebaan, gimnasiun en koshuis is maar net paar van die nuwe toevoegings tot die infrastruktuur sedert 1995.
My voorstel is… deel blinddoeke op die grense van die Vaaldriehoek uit aan die klas van 1995 en haal dit af wanneer julle by die skool se gronde inry! Bou en behou.
