Tragiese verdrinking: Wie kan Paul en sy familie onthou?
Daar het deur die jare verskeie tragedies in die Vaal gebeur, en dit het soms 'n langdurige uitwerking op die diegene wat dit gesien gebeur, of die mense geken het met wie dit gebeur het.

VANDERBIJLPARK – Plaaslike inwoner Sidney Meyer het Vaalweekblad onlangs gekontak met die hoop om iemand uit die verlede op te spoor.
Ons draai die jare terug na 1961. Sidney was toe 11 jaar oud, en ‘n Standard 4 leerling aan die Laerskool Totius. Dit was daardie jaar wat hy aan die eerste tragedie in sy lewe blootgestel was.
“Daar was ‘n oulike seun in my klas, sy naam was Paul Grobler. Ons was nie juis beste maatjies buite klasverband nie, maar hy was altyd besonder vriendelik en gaaf teenoor my. Ek het dit baie waardeer,” onthou Sidney.
Tragedie het egter kort daarna ingetree. Die skoolhoof het een oggend tydens opening aangekondig dat Paul Grobler dood is! Hy en maatjies het in die quarrie, die gat waar Checkers (in die gat) nou is, gaan swem.
Paul het ingeduik, maar nie weer opgekom nie. Sy maats het glo paniekbevange na die pad gehardloop en ‘n man gevra om te kom help, maar hy kon niks doen nie.
Die polisieduikers het later Paul se ligaam uitgekry. Daar was glo ou doringdraad onder die water en Paul het daarin verstrengel geraak.
“Toe ek dit hoor het ek uitgebars in trane. Die skool het sy ouers gevra of ek een van die draers van sy kis kan wees. Die dag van die begrafnis het ons ses draers in die tweede ry van die kerk gesit.
“Van daardie dag af weet ek dat niks erger met iemand kan gebeur as om ‘n kind te verloor nie”.
Dis 64 jaar gelede. Maar die afgelope jaar, om een of ander rede, kan Sidney nie ophou dink aan daardie hartseer gebeure nie.
Paul het ‘n jonger boetie in die skool gehad (nou seker so 73 jaar oud) en Sidney hoop om kontak met hom te kan maak.
Die kans om hom op te spoor is maar skraal, want die jonger broer kan enige plek in die land, oorsee of selfs dood wees na al die jare.
Indien enigiemand wel inligting het van waar hy hom bevind, sal Sidney dit hoog op prys stel. Kontak Sidney op 082 357 9047.
