Local newsNewsNews

Help Valie om sy Hollywood-droom te bewaarheid

Om sy droom te verwesenlik, verg nie net talent nie… dit verg geld.

VAALPARK – Daar is ‘n vonkel in sy oog en ‘n huppel in sy stap wanneer die 17-jarige, Zaander Kriel, ‘n jong akteur van Vaalpark, oor sy toekomsplanne praat.

Hy het onlangs in Sandton 780 deelnemers uitgestof vir die voorreg om Suid-Afrika by die International Presentation of Performers (iPOP) later vanjaar in Los Angeles te verteenwoordig.

Die byeenkoms bring talentvolle jong mense van regoor die wêreld bymekaar om hul vaardighede aan top Amerikaanse agentskappe en verteenwoordigers ten toon te stel.

Vir Zaander het sy reis in die uitvoerende kunste as ’n gewone skoolvak begin, maar dit het gou in ’n lewenspassie verander.

“Drama het vir my ’n wêreld oopgemaak waar ek stories kan vertel en mense kan raak op maniere wat woorde alleen nie kan nie,” vertel hy. “Dis in die teater waar ek ontdek het wie ek regtig is,” vertel hy.

Hy sê sy liefde vir optree het vlamgevat toe hy besef het hoe stories mense kan verbind. “Die eerste keer wat ek op ’n verhoog gestaan het en gehoor het hoe die gehoor reageer, het ek geweet dis waar ek hoort,” sê hy glimlaggend.

By iPOP gaan hy deelneem aan verskeie werkswinkels, oudisies en optredes doen saam met jong kunstenaars van regoor die wêreld. “Dis nie net om gesien te word nie. Dit is oor groei, leer en die kans om as kunstenaar te ontwikkel,” verduidelik hy.

Vir hom is die geleentheid ’n eer én ’n groot verantwoordelikheid. “Ek voel trots om my land te verteenwoordig. Ek dra nie net my eie drome nie, maar ook die hoop van jong Suid-Afrikaners wat glo dat enigiets moontlik is, as jy hard werk.”

Maar om sy droom te verwesenlik, verg nie net talent nie… dit verg geld. Die koste vir deelname beloop sowat R150 000, wat reis, verblyf en deelnamefooie insluit. Hy is tans besig met fondsinsamelingsprojekte en aanlyn veldtogte om die koste te help dek.

“Enige bydrae, groot of klein, bring my een stap nader aan hierdie droom,” sê hy. Zaander se rolmodelle sluit internasionale akteurs soos Leonardo DiCaprio, Viola Davis en Charlize Theron in. Kunstenaars wat hom inspireer om groot te droom.

Vir ander jongmense met groot drome het hy ’n eenvoudige boodskap: “Moet nooit ophou glo nie.

Jou drome is geldig, maak nie saak waar jy vandaan kom nie. As jy hard werk en aanhou glo, kan jy enigiets bereik,” sluit hy af.

Die adres vir sy skarebefondsingsprojel is: https://www.backabuddy.co.za/campaign/ipop-los-angeles. Diegene wat belangstel om ‘n bydrae te maak kan sy pa Manie by 082 373 3883 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button