Gesin bid vir nog ‘n wonderwerk
Herman Putter se gesin bedank die gemeenskap wat saam met hulle bid vir sy herstel. "Moet asseblief nie ophou bid nie," vra hulle.
VANDERBIJLPARK – ‘n Brandslagoffer is terug in die Intensiewe Sorgeenheid nadat hy komplikasies ervaar het weens die verskeie operasies wat hy sedert ‘n fratsongeluk ondergaan het.
Herman Putter het sedert daardie September-oggend in 2023 reeds baie pyn en uitdagings ervaar.
Herman se klere het aan die brand geraak en van sy lyf afgebrand nadat hy ‘n boks aan die brand wou steek.
Hy is kort na die voorval na die Netcare Alberton-hospitaal oorgeplaas omdat hulle ‘n goeie brandeenheid het. Dit het waarskynlik sy lewe gered.
Sy gesin het gedurende die tyd alles gedoen om hom te ondersteun en saam deur diep waters gegaan. Ongelukkig is hul kommer nog nie iets van die verlede nie.
Hy was vir meer as 100 dae in die intensiewe sorgeenheid behadel, daarna is hy na ‘n rehabilitasie sentrum in 2024 en kon uiteindelik na maande se behandeling daar huistoe gaan.
Dinge was so amper terug na normaal, maar op 16 September moes Herman weer in die hopsitaal opgeneem word.
“My pa het gekla oor verskriklike maagpyn en sy maag het begin opswel. My ma het toe ‘n ambulans ontbied en hy is vir ‘n CT scan gestuur,” vertel Bernadine Muller, Herman se dogter.

Die Sondag is die gesin ingelig dat Herman dringend teater toe moet gaan. In ‘n bietjie meer as vyf uur lange operasie is vergroeisels en vernouings in sy derms verwyder.
Op 27 September is daar egter bevind dat daar gaatjies in sy derm is. Hy is weer terug onder die mes om gal te dreineer en die gaatjies reg te maak.
Na afloop van dié operasie is Herman met morfien (skedule 5) vir pyn behandel, en 80% aan ‘n ventilator gekoppel sodat hy vir ‘n week onder sedasie kon wees omdat die dokter nie sy maak kon toewerk nie.
“Sy maag is steeds oop en my pa veg nou teen infeksies. Ons het begin bid vir nog ‘n wonderwerk dat die gaatjies self sal toegroei, en ons gebede is verhoor,” vertel ‘n dankbare Bernadine.
Hoewel Herman steeds aarvoeding kry, is hy intussen van die ventilator af en haal nou self asem.
