Rubriek: Alles wat skitter en blink is nie goud nie
Mense raak verstrengel om by ander te probeer byhou.

Matriekafkeidkoors het die Vaaldrieheoek net so hard soos die res van die land getref.
Vergete is die dae van ‘n eenvoudige funksie.
Daar word grimeerkunstenaars, fotograwe en videograwe gekry om elke spesiale
oomblik van die dag vas te vang.
Niemand lewe meer in die oomblik nie. Skole kom vroeg uit sodat die matrikulante genoeg tyd kan hê om op te tof. Duisende rande word aan aandrokke en pakke spandeer.
Oral is daar matriekafskeidkompetisies. Dis erger as Keeping up with the Jones’. Hier is dit nie net ‘n geval om by te bly by jou buurman nie.
Jy moet hom heeltyd oortref. Dit is duidelik sigbaar wanneer die luukse sportmotors, trekkers, stootskrapers, helikopters en Harley Davidson motorfietse tou staan om die matrikulante by die rooitapyt af te laai.
Dit is alles goed en wel verleen oemf aan die skouspel, maar is dit werklik nodig? Mens is geregtig daarop om onvergeetlike oomblikke en herinneringe te skep, maar alles binne perke.
Die beste dinge in die lewe is gratis. Daar is ‘n goeie rede hoekom herinneringe
met tyd moet vervaag.
Mense raak verstrengel om by ander te probeer byhou. Sosiale media skep onrealistiese verwagtinge en laat mens mekaar se lewens beny.
Dit is soos om jou lewensmaat met jou eerste huweliksherdenking na ‘n eksotiese eiland
weg te neem. Wat gebeur die volgende 20 jaar van jou huwelik, hoe oortref jy dit?
Na matriek moet meeste pa’s opdok vir ‘n studentekar, studies, boeke, sakgeld en
huisvesting en die lys gaan net aan en aan.
Mens wil jou kinders ‘n voorsprong in die lewe gee, maar sonder pap wiele en leë bankbalanse word mens die geleentheid
ontneem om te leer en te groei.
Met die afwesigheid van verpligte militêre diensplig sweef jongmans doelloos deur die lewe. Daar was destyds nie ‘n gap jaar nie.
Jy’s twee jaar weermag toe en daar is meeste jongelinge se muisneste uitgesorteer.
Dan is daar Kunsmatige intellegensie (KI) wat stelselmatig besig is om die mens se
kreatiwiteit te vervang.
Baie beroepe gaan binnekort deur KI tot niet verklaar word, wat
soveel mense sonder ‘n doel in die lewe gaan laat.
Die mensdom is reeds so deurmekaar soos ‘n mengelslaai by ‘n swaaibraai en benodig geen hulp om enige verdere afwykings aan te wakker nie. Ons neem onsself en ander mense te ernstig op.
Almal wil deesdae detoks en Vadertyd se uitwerking op ons sterflike liggame vertraag, maar
niemand wil werklik die harde werk insit nie.
Die grootste “gifstof’’ wat ons elke dag ons liggame en breine mee besoedel is tegnologie, skerms en selfone. As ons onsself bietjie op ‘n tegnologie dieet plaas sal alles reeds 100% beter wees.
Wie sal dan worry as jy R1 800 ‘n paartjie vir ‘n matriekafskeid betaal en nadese by die plaaslike Burger King moet stop om iets behoorlik in jou maag te kry?
Of dit nou ‘n driegangmaal is of ‘n beef shawarma, dit is mos deel van
die lewensreis!
