DA veg om Sasolburg-voëlheiligdom en Hoëveld Tuin te red
Werk ook nou saam met BirdLife South Africa om te help met die rehabilitasie van die heiligdom
Let wel aan redakteurs: Engelse en Afrikaanse klankgrepe deur Raadslid Jacques Barnard en ’n Sesotho-klankgreep deur Jafta Mokoena MPL is aangeheg. Sien aangehegte foto’s hier, hier en hier.
Die Demokratiese Alliansie (DA) in Metsimaholo gaan ’n openbare petisie loods en die Minister van Omgewingsake, Bosbou en Visserye nader om in te gryp vir die beskerming en herstel van die Sasolburg Voëlheiligdom en Hoëveld Tuin Natuurreservaat.
Die DA werk ook nou saam met BirdLife South Africa om te help met die rehabilitasie van die heiligdom – ’n belangrike ekologiese ruimte wat biodiversiteit, ekotoerisme en die plaaslike ekonomie ondersteun.
Terwyl Suid-Afrika saam met die wêreldgemeenskap Wêreld Habitatdag op 6 Oktober gevier het onder die tema “Stedelike Krisisrespons,” word ons daaraan herinner dat die beskerming van ons natuurlike en stedelike omgewings nie net ’n omgewingsverantwoordelikheid is nie, maar ook ’n grondwetlike verpligting.
Tog skiet die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit in Sasolburg ernstig tekort in hierdie plig.
Die Hoëveld Tuin Natuurreservaat, saam met die Sasolburg Voëlheiligdom, het eens as ’n trotse simbool gestaan van hoe biodiversiteit en stedelike ontwikkeling vreedsaam kan saam bestaan.
As ’n munisipale beskermde gebied is die heiligdom oorspronklik gevestig om die Hoëveldse flora en watervoëlle te beskerm. Dit huisves meer as 70 spesies, insluitend reiers, visvangers, jakana’s en skaars ralle en roofvoëls. Tog het onlangse oorsigbesoeke ontstellende toestande aan die lig gebring.
Volgens die munisipaliteit se 2025/26 Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) bly die “instandhouding van die Hoëveld Tuin en Voëlheiligdom” onopgelos, met geen operasionele personeel, ontoereikende toerusting en geen goedgekeurde bestuursplan nie.
Ten spyte daarvan dat dit as ’n beskermde natuurreservaat erken word, het die munisipaliteit glo oorweging geskenk aan herontwikkeling vir kommersiële doeleindes – ’n direkte oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede (Wet 57 van 2003) en hul eie GOP-verpligtinge.
Hierdie verwaarlosing dui op die stadige ondergang van een van Sasolburg se laaste “groen longe.”
Vleilande suiwer water, voorkom oorstromings, stoor koolstof, en bied teelplekke vir wildlewe, terwyl dit ook ontspanningsgeleenthede aan inwoners bied.
Die voortgesette agteruitgang van die heiligdom bedreig biodiversiteit, ekotoerisme en ’n volhoubare toekoms.
Die DA doen ’n beroep op die munisipaliteit om:
Alle ontwikkelings- of hersoneringsvoorstelle te staak en die heiligdom se beskerming te bevestig deur ’n Raadsbesluit en registrasie by die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing.
’n Plaaslike rehabilitasietaakspan saam te stel met bewaringskundiges, organisasies en gemeenskapsverteenwoordigers.
Die heiligdom te integreer in die munisipaliteit se biodiversiteits- en toerismekader vir volhoubare bestuur.
Die beskerming van biodiversiteit is nie ’n luukse nie – dit is noodsaaklik vir stedelike lewe.
Metsimaholo moet beslissend optree om hierdie lewensbelangrike habitats te beskerm.
