Sanger skryf motor af op pad na toekennings
Afrikaanse sanger Leonardo het uitstekend gevaar by die SACMAF Toekennings, maar dit was so amper of hy het dit nie tot by die funksie gemaak nie.
VANDERBIJLPARK – 11 Oktober was’n aand van gemengde gevoelens vir die Afrikaanse sanger Leonardo. Vir weke het hy uitgesien na die SA Country Music Association/ Foundation (SACMAF) toekenningsaand. Hy was genomineer vir 11 kategorieë.

Die rit vanaf Heilbron via Vanderbijlpark het goed afgeloop totdat hul naby Gilooly’s gekom het. ‘n Motor het skielik voor hom ankers geslaan.
“Ek het probeer uitswaai, maar ‘n ander kar het met spoed van regs afgekom en my kar op die neus getref. Ek dink die slag het die rekenaarboks laat op pak. Alle liggies het skielik rooi in die kar aangekom en die kar het begin gly,” vertel Leonardo.
Die botsing was onvermydelik.” Omdat die rekenaarboks nie gewerk het nie, het die veiligheidskussings nie ontplooi nie en my veiligheidsgordel het ook nie vasgetrek nie.
“Sharon het haar kop teen die voorste venster gestamp en haar gewrig seergemaak. Met die impak het my bors teen die stuurwiel geslaan. My swaer en skoonsus het ook seergekry.”
Wonder bo wonder het al vier uit die wrak geklim met slegs blou kolle en skrape. Alhoewel hul geskok, styf en seer was, het hul besluit om steeds na die toekenningsaand in Pretoria te gaan.
Hulle het ‘n vriendin gebel wat hul motor tot in Germiston gesleep het. Daarna is hul na die funksie.
“Ons was almal in pyn en het maar oes gelyk. Maar, dit was alles die moeite werd. Ek het agt kategorieë gewen,” vertel hy trots.
Ongelukkig is sy motor afgeskryf in die ongeluk. “Ek kan op die stadium nie my vertonings doen nie. Indien iemand dalk kan help met donasies of die tydelike borg van ‘n motor, sal dit hoog op prys gestel word.”
