Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Oeps, ek het dit weer gedoen

Kry almal sulke dae of is dit net ek? Die dae wanneer die verstrooidheid oorneem en jy sonder omhaal in penaries beland.

Dit was ‘n Dinsdagoggend in Oktober. Ek het betyds wakker geword en klaargemaak. Die honde het nie.

My werksgoed het al gereed gestaan in die kombuis, toe kom Kleinsus Antjie aangesnel om uit te gaan.

Ek sluit die agterdeur oop. Die drie storm uit.

“Maak gou,” por ek hulle aan, ek moet by die kantoor kom en daar wag nog ‘n afspraak in Unitaspark ook.

Uiteindelik het ek al drie weer in. Ek gryp sakke en sleutels en maak vir die voordeur.

Dis een van daai deure waar jy aan die binnekant die knoppie draai vir die deur om te sluit.

Dis ‘n hele gedoente om seker te maak een van die honde glip nie onder my voete uit nie, die deur te sluit en met al my bagasie op die stoep te beland.

Die oomblik toe die houtdeur agter my toeklap, toe weet ek hier is moeilikheid. In my hand vasgeklem is my motor se sleutel en die agterdeur se staalheksleutel.

Ek grawe eers verwoed in my sak. Dalk het die voordeursleutels daar beland. Niks.

Ek is vasgevang in ‘n hokkie. Spaarsleutels is ook in die huis.

My oog vang die groot hek en die slot. Niemand sal eers kan inkom om my te probeer red nie.

Ek bel vir Johan. “Staan net daar, ek is op pad.” Waar dink hy kan ek gaan?

Ek maak ‘n video oproep Swede toe. Ek sien my Twin dink dis baie snaaks, maar sy probeer darem aan oplossings dink.

Eindelaas bel ek die redakteur. Sy lag lekker. “Nee, jy moet maar daar sit en mediteer tot jy gered word.”

My skroefvoet begin my aankla en ek gaan sit in my hokkie. Net my sit gekry toe maak Johan sy verskyning op die sypaadjie.

Hy bel ‘n sleutelman. Die kry gou genoeg die groothek oop, maar dit sukkel by die agterdeur.

Die honde blaf histeries. “Ons kyk net”, hoor ek weer vir Johan. Hy het die agterheksleutel in die hand. Die sleutelman druk dit sonder omhaal in die voorhek se slot en kirts krats die voorhek is oop.

Ek staan bietjie sprakeloos opsy terwyl die man soos ‘n wafferse 007 met ‘n ding in die houtdeur se slot krap en dit dan ewe rustig oopmaak.

“Dis R350 mevrou.”

“Doen ‘n EFT,” sê Johan.

“Ja,” seg ek, en dink dis nou wraggies die duurste piepie wat Kleinsus Antjie nog ooit gehad het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button