‘n Klap wat die padwoede-meter gebreek het
Vir elke aksie is daar 'n reaksie. Leer tog hieruit.

Daar is ‘n algemene opvatting – amper ‘n romantiese mite – dat motorfietsryers na ‘n lang rit ‘n verhoogde algehele gemoedstoestand ervaar, beter as die gewone motoris.
Dis die vryheid, die vars lug, die teerpad wat onder jou deurskuif. Dit klink sowaar idillies!
Maar die werklikheid is dat daardie ‘zen’-rit vinnig kan ontaard as daardie teerpad vol slaggate is, of erger, as padwoede in die prentjie kom.
Verlede Saterdagoggend was ek ooggetuie van presies hoe vinnig daardie plesier in chaos kan verander.
By die verkeerslig oorkant die Vaal Mall het twee bikers stilgehou, geduldig gewag vir die lig om groen te slaan.
Langs hulle trek ‘n man in ‘n Ford Ranger in. Ek sou sweer dit was die top-van-die-reeks Wildtrak; dit sou darem mooi by die latere waaghals-optrede van die bestuurder gepas het.
Sonder waarskuwing, uit die bloute, kry die biker naaste aan die bakkie ‘n onverwagse, taai klap op die blad.
Die Ford-waaghals het duidelik nie die gevolge deurdink voor hy besluit het om klappe uit te deel nie.
Dit was soos ‘n blits toe staan die biker langs die Ford-waaghals en laat waai met ‘n vuishou deur die oop venster.
Wat daarna gevolg het, was ‘n toneel wat reg uit ‘n aksiefliek kon kom. Die Ford-waaghals het in ‘n vlugtende renjaer ontaard.
Met ‘n vreeslike gespin van die bande is hy oor die rooi lig, mis my voertuig net-net, en ‘n ander motoris moes briek trap vir ‘n vale om ‘n botsing te vermy.
Ek was naby genoeg om die Ford-waaghals se uitdrukking te sien: absolute, skok. Sy oë was so groot soos pierings, onmiddellik spyt oor ‘n daardie los hand van hom.
Nou sit ek en wonder: Wat in die naam van die langpad het die aanloop tot daardie klap gegee?
En meer belangrik: Wat het hy werklik gedink sou die reaksie wees?
Een ding weet ek: Hy kan homself gelukkig ag dat die bikers besluit het om die hoë pad te kies en hom nie agterna gesit het nie.
As hulle het, sou hierdie storie nie ‘n lighartige rubriek gewees het nie, maar waarskynlik ‘n voorbladberig.
