Groot vermaak ten bate van klein Jordan
Maak gereed vir bo-baas vertonings en rugby op die grootskerm.
VANDERBIJLPARK – Groot name gaan optree ten bate van klein Jordan Hood (4).
In Maart is Jordan met Arnold Chiari Malformasie gediagnoseer, ‘n toestand waar breinweefsel in die ruggraatkanaal afsak.
Jordan het ‘n breinoperasie ondergaan, en dit was gelukkig ‘n groot sukses.
Toe, in Junie, het sy pleegma die verpletterende nuus ontvang dat hy ook Sistiese Fibrose (SF) het.
Laasgenoemde is ‘n genetiese toestand wat veroorsaak dat die liggaam se slym, sweet en spysverteringsappe dik en taai word, in plaas van dun en glad. Die slym blokkeer die lugweë, wat lei tot herhalende en ernstige longinfeksies.
Die groot probleem waarmee die Hoods worstel is dat daar ‘n lewensreddende middel teen Sistiese Fibrose is, genaamd Trikafta, maar dit kos R33 333 per maand.
Om die Hoods met hul mediese uitgawes te help, word puik vermaak op 8 November by die Veiling in Vanderbijlpark beplan.
Die deure open reeds om 14:00. Daarna volg ‘n vol program vermaak wat omstreeks 15:00 begin met Dewald, gevolg deur Ollie & DJ, Tanya V, Armand Hofmeyr, Nicolis Louw, ‘n veiling en om 22:00 is daar rugby op die grootskerm.
Daar was in Vaalweekblad berig dat die pret by die Veiling in Sasolburg gaan wees, neem kennis dat dit foutief is dat al die pret by die Veiling Vanderbijlpark gaan wees.
