Local newsNewsNews

SA Rugby tevrede met verslag oor Vilano se dood

Hy sou vandag sy 21ste verjaarsdag gevier het.

VANDERBIJLPARK – Die familie van die 20-jarige NWU Vaal rugbyspeler, Vilano Saunders, wat in Mei gesterf het nadat hy sy nek in ‘n skrum gebreek het, vier vandag sy 21ste verjaarsdag sonder hom.

Die familie het op die vooraand van sy mondigwording terugvoering van SA Rugby ontvang oor die ondersoek en gepaardgaande verslag wat die Valkerugbyunie ingedien het.

SA Rugby het per e-pos hul medelye aan Vilano se ma, Lizelle, betoon en daarin bevestig dat SA Rugby tevrede is dat alle veiligheidsmaatreëls en prosedures deur die Valkerugbyunie en deelnemende klubs gevolg en nagekom is.

Die Saunders-familie beweer dat daar nalatigheid betrokke was en dat Vilano nooit opleiding gekry het om op haker te sak nie.

SA Rugby het Saunders-hulle aangeraai dat alle vrae oor die mediese behandeling aan die dokters en hospitale wat betrokke was, gerig word en dat navrae oor wedstrydlogistiek aan die Noordwes-Universiteit (NWU), die gasheer van die wedstryd, gestuur word.

SA Rugby het bygevoeg dat sy reaksie “sonder vooroordeel” uitgereik is en nie as ’n erkenning van aanspreeklikheid beskou moet word nie.

Die familie het reeds met die nooddiens wat Vilano se besering hanteer het, asook BokSmart se verteenwoordigers vergader as deel van hulle onafhanklike ondersoek om antwoorde te vind.

Vilano saam met sy sussie Ledene O’Kelly.

Sy Sussie Ledene o’Kelly wat in Beijing in China werk het die volgende inskrywing op Facebook gemaak:

My Lano Beer,

My liefste baba boeta, vandag sou jou 21ste verjaarsdag gewees het.

Daar is skaars stukkies van my oor om op te tel soveel aande voel dit asof ek nie kan asemhaal nie, asof dit nog steeds nie realiteit is nie.

Ek wil skree, ek wil hardloop, ek wil net by jou wees… maar al wat ek kan doen, is huil. Ek kyk jou video’s en ek huil totdat ek aan die slaap raak, want ek moet sterk wees vir Deckie.

Lano, ’n groot deel van my siel het saam met jou gegaan.

Ek sukkel, boeta… ek sukkel sonder jou.

Ek mis jou, Lano… hoe moet ek sonder jou deur hierdie lewe kom?

Ek het jou so, so lief.

Vir altyd jou sussie.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button