VEREENIGING – Hy het onlangs met die kroon weggestap vir die beste Tradisionele Country Lied by die SACMAF Toekennings met sy weergawe van This you must know.
Nou het hy twee nuwe enkelsnitte vrygestel, en albei beloof om die hartsnare te roer.
Die eerste is die sielsmooi snit Grey Eyes You Know. Die hartseer skepping is geskryf deur Harlan Howard en Ronald Gene Myers, en in 1966 deur eersgenoemde oorspronklik opgeneem.
Deur die jare het verskeie ander oorsese kunstenaars die liedjie opgeneem, maar Colin Dee is die eerste Suid-Afrikaner om dit te doen
Colin se weergawe is eksie-perfeksie en trek die luisteraar in die storie in. Van jong liefde totdat een by ʼn graf moet afskeid neem.
Hy moes sy normale stem ‘n register laer laat werk op plekke tydens die opname en dit werk uitstekend.
Die musiek is geskep deur die klawermeester Quinten Pendle en die stemopname is gedoen deur Hennie Ungerer by UNG Studios, terwyl sy broer Rian gesorg het vir die puik agtergrondsang.
Die tweede enkelsnit Help me het ook besliste Countryklanke en vat soveel van die hedendaagse menswees vas. Dis in die vorm van ʼn gebed om hulp vir daardie ekstra bietjie krag om elke dag se stres en dinge aan te pak.
Gaan volg Colin Dee op uitgesoekte digitale platforms soos ReverbNation, BuyMusic en Spotify om na hierdie en sy ander treffers te luister.