SASOLBURG – Fontein Gemeente het behoorlik die nuwe seisoen ingewy met ‘n groot Lentefees op 24 September.
Behalwe vir die oormaat kos en lekkernye wat te koop was, was daar ook hope vermaak.

Die jonge dames van Lumiére Primêr se Pom Pom Meisies en Noordskool se Rasieleiers het beïndruk met hul danspassies en vele harte gesteel.
Die kinders het hul koekversierkompetisie baie geniet, al is daar plek-plek meer versiersels geëet of op die grond laat beland as die koeke.

Die uiteinde was ʼn kleurryke skouspel van koeke wat dit moeilik gemaak het vir die beoordelaars om die wenners te kies.
Terselfdertyd was daar ʼn kompetisie van ʼn ander aard, maar eg Suid-Afrikaans, aan die gang. Die manne het vure aanmekaar geslaan en ywerig braaibrooidjies gemaak.

Elkeen was uniek en elkeen het ʼn ekstra twist op hierdie ou staatmaker gegee. Van gekaramelliseerde uie, tot by bacon, kaas en rissies het hul weg van die braai na die beoordelaars se borde gevind.

Joey Hoffeldt, Christa Heydenrich en die Vaalweekblad se eie Gerda Bruinette het beoordelaars gespeel en al die smake, kreatiwiteit en stories agter die broodjies baie geniet.
Ook hier was dit moeilik om wenners aan te wys, want alles val nie in elkeen se maak nie. Eintlik het al 14 inskrywings verdien om te wen, want dit was almal eersteklas.

Die dag is goed ondersteun en besoekers het van so ver as Vanderbijlpark en Vaalpark gekom om in die lekker kuier te deel.
