Kwalifiseer jy dalk vir ELM-subsidies?
Indien wel, kan dit jou maandeliks geld spaar en die lewe bietjie beter maak vir jou en jou gesin.

Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) se deur tot deur-veldtog, wat daarop gemik is om behoeftige gesinne uit te wys, en te registreer om vir sekere dienste en subsidies in aanmerking te kom, word verwelkom.
“Volgens Statistieke Suid-Afrika is daar sowat 150 000 huishoudings in Emfuleni wat geklassifiseer kan word as behoeftig.
“Net 91 200 hiervan is egter tans as sodanig by die munisipaliteit geregistreer,” sê raadslid Carla Cato van die VF Plus.
BTF Global, ʼn diensverskaffer van die munisipaliteit, sal tussen November en Desember met dié huis tot huis-deel van die veldtog begin, in samewerking met die munisipale komitee vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling.
Die veldtog sal die registrasie en bevestiging van behoeftige huishoudings bespoedig en dit ook vir diegene vergemaklik wat dalk nie by die munisipale kantore kan uitkom nie.
“Om te verseker dat slegs werklike behoeftige huishoudings geregistreer word, moet streng bewyse soos bankstate, salarisstrokies, bewys van werkloosheid en eiendomswaardasies getoon word om te voorkom dat die program misbruik word,” beklemtoon Cato.
Enige huishouding met ʼn inkomste van minder as R6 400 per maand of wie se eiendom minder as R300 000 werd is, kwalifiseer vir die program.
Indien die eiendom se waarde meer is, moet die aansoeker se status eers nagegaan word.
