‘n Meesterlike fotografie-jaar vir Mietsie
As kind het mooi landskappe van Namibië haar betower, en nou neem Mietsie Visser self skitterende foto's wat ander se asems wegslaan en inspireer.
VANDERBIJLPARK – “My pa het pragtige foto’s geneem en ek wou ook graag. Ek het as agtjarige my eerste kamera gekry. ‘n Plastiek een wat swart en wit foto’s geneem het.”
Dit is waar die fotografiegogga Mietsie Vissier gebyt het.
In 2012 het sy by die Vanderbijlparkse Fotografieklub aangesluit en haar passie het vlerke gekry. Sy het ook by die Photographic Society of South Africa (PSSA) aangelsuit en aan kompetisies (bekend as Salonne) begin deelneem.

Tans is daar sowat 100 klubs, met duisende lede, wat aan die PSSA behoort.
Die klublede kan maandeliks aan PSSA-salonne deelneem wat deur die jaar deur onderskeie klubs aanbied word. So ‘n kompetisie betaan uit 6 afdelings: Natuur, Sport, Landskap, Fotojoernalistiek, Portretstudies, Ope en Monocroom.
Die oorkoepelende kompetisie vir die meeste punte behaal gedurende die fotografie jaar, ding om die Impalatrofee mee.
Vanjaar het Mietsie die algehele derde plek behaal. Sy het ook die eerste plek verower in die Natuur-afdeling.
“Ek voel werklik bevoorreg. Die kompetisie is geweldig sterk en ander fotograwe se werk is regtig puik. Boonop is dit nie maklik om oor ‘n tydperk van ‘n jaar konstant goeie foto’s in te skryf nie. Dit verg baie motivering,” sê Mietsie.
Sy en haar man Henry is altwee lief vir die natuur- en wildlewe.
Na aftrede geniet hulle nou meer tyd gekry om in die natuur te spandeer, en besoek veral die Kruger Nasionale Park, Kgalagadi, Okavango Delta in Botswana, Hwange NP in Zim en Etosha NP Namibië.
Sy kry dus baie geleentheid om veral natuuraksie af te neem. Dit is haar wêreld! Maar sy hou ook daarvan om sportfoto’s, landskappe en portretstudies af te neem.
Raad oor natuurfotografie
Geduld speel ‘n faktor by Natuurfotografie. Ek sit graag vir lank by watergate, want alle diere en voëls moet kom water drink. Dis ook dan wanneer al die drama plaasvind en die roofdiere hul prooi neertrek en die roofvoëls aktief is.
Raad aan aspirant fotograwe
Sluit by ‘n plaaslike fotografieklub aan. Jy hoef nie met duur toerusting te begin nie en selfs ‘n selfoon kan gebruik word. Wees net kreatief en geniet die proses.

