SASOLBURG – Moredou Tehuis vir Bejaardes se eetsaal was Saterdag vrolik in oranje getooi.
Buite het die braaivleisvure gebrand en binne het die inwoners opgewonde die saal ingestroom.
Dit was ‘n spesiale fees om dankie te sê vir Cathy Heyneke en Alwyn Kotze wat al vir 32 jaar vrywillig hul tyd, aandag en liefde vir die tehuis gee.
Cathy en Alwyn het in 1993 die plek tot stand gebring as ‘n toevlugsoord vir haweloses en dit in 1997 omskep in ‘n tehuis vir bejaardes.
Sedertdien doen hulle alles by die tehuis, nie net as die bestuur nie, maar ook om seker te maak elke bejaarde het alles was benodig word. Hulle koop selfs die kos aan.
“Ons het albei ‘n passie vir ouer mense,” beduie hulle. Vir hulle is dit belangrik dat Moredou so huislik moontlik moet wees en dat elke bejaarde hier tuis moet voel.
“Dis alles net genade. Net die Here kan die eer kry dat alles hier so goed gaan,” sê Cathy en voeg by dat Moredou haar lewe is.
“Ek het hier gesien hoe mense se lewens verander. Hoe hulle heel word en hoe die plek hul huis word,” vertel sy.
Alwyn sê hulle sal nie die plek in stand kan hou en soveel kon doen sonder die hulp van die gemeenskap en instansies in die Vaaldriehoek wat by hulle betrokke is en ook ondersteuning bied nie.
“Ons kan net dankie sê. Hulle is te veel om op te noem, maar hulle weet wie hulle is,” glimlag hy.
