Nou kan Milanka weer uistappies geniet
VANDERBIJLPARK - Milanka McDonald (25), een van die Vaal se mees geliefde en bekendste Downsindroomlyers, spog met 'n splinternuwe rolstoel wat haar lewe aansienlik makliker maak.
“Ons is so dankbaar vir die plaaslike gemeenskap se omgee,” sê Tania, Milanka se ma.
Sy het reeds voorheen verskeie plaaslike fondsinsamelings gehou om met Milanka se mediese onkoste te help.
Die mees onlangse fondsinsameling was ‘n gholfdag wat Vrydag (24 Oktober) by die Emfuleni Gholfbaan aangebied is.
Die grootste ondersteuning het egter die keer van buite die Vaal se grense gekom.
Die nuwe rolstol is deur NuSkinnovation van Sandton geskenk en kom sommer baie handig te pas.

Milanka wat op 18-jarige ouderdom in 2018 haar vierde hartoperasie ondergaan het, se heupe is reeds op ‘n baie jong ouderdom ‘gepin’ weens Slipped capital femoral epiphysis (fraktuur deur die groeiplaat).
Dit het tot gevolg dat haar bene baie stadig gegroei het, en dit het ook veroorsaak dat sy baie onaktief geraak het en pyn verduur wanneer sy baie loop.
Dit was vir haar ouers baie moeilik om te aanskou hoe hul eens sprankelende dogter haarself begin onttrek het van enige sosiale uitstappies saam met die res van die gesin.
Die loop is eenvoudig te pynlik vir haar … maar nou kan Milanka weer saam kuier tydens uitstappies.
Met al die nodige operasies en versorging was die gesin se mediesefonds ook reeds uitgeput en het hulle maandeliks die agterstallige doktersrekeninge afbetaal.
Die uitstaande rekening is deur ASI Financial Services van Sandton vereffen, wat die gesin ‘n welkome blaaskans bied.
“Ons kan nie genoeg dankie sê aan die twee instansies en al die ander skenkings, groot of klein nie,” sluit Tania af.

