Local newsNewsNews

Ngwathe-saak van dringende rol verwyder

Dit is egter geen oorwinning vir die munisipaliteit nie!

PARYS – AfriForum se dringende aansoek om ’n hofuitspraak in sy diensleweringshofsaak teen die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit te laat implementeer hangende die munisipaliteit se appèl daarteen, is weens die omvang daarvan van die dringende hofrol verwyder.

 

Die saak sal nou later aangehoor word sodat die regter in dié saak genoeg tyd gegun kan word om die omvangryke stukke in hierdie saak wat reeds in 2024 begin is, kan bestudeer.  

 

Dié besluit volg in reaksie op die deurslaggewende oorwinning waartydens regter J.P. Daffue bevind het dat Ngwathe nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie.

 

Hy het daarom as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp.

 

Die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl is boonop op 19 Augustus van die hand gewys. Die munisipaliteit het hom egter intussen na die Hoogste Hof van Appèl gewend.

 

“Hoewel dit nou nie meer op ’n dringende grondslag sal geskied nie, hoop AfriForum dat die aansoek vanjaar nog aangehoor sal word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

 

Indien hierdie aansoek slaag, sal dit verseker dat die noodsaaklike ingryping waarna die inwoners van die Ngwathe-munisipaliteit smag én waarop hulle geregtig is, geïmplementeer kan word ongeag die appélaansoekproses by die Hoogste Hof van Appèl – ’n proses wat etlike jare kan neem om afgehandel te word.

 

“Die besluit om nie die aangeleentheid op ’n dringende basis aan te hoor nie, wys dat regter Sharon Chesiwe die erns, omvang en impak van hierdie saak gewigtig genoeg ag om dit indringend te ondersoek.

 

“Dit is geensins ’n oorwinning in Ngwathe se guns soos wat die munisipaliteit nou in die media dit wil laat blyk nie. Hul waninterpretasie van die hof se besluit dui op ’n onkunde oor die regsproses. Daar wag beslis ’n verrassing op die munisipaliteit as hulle dink dat die saak nou verby is,” sê Pretorius.

 

 Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê daar steeds nie noemenswaardige verbetering in die dorp nie. Kritieke aspekte soos water en krag is volgens Burger steeds in ’n haglike toestand.

 

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button