VANDERBIJLPARK – Die liggaamsbou gogga het hom in 2015 gebyt. Heinrich Abbott was toe nog op skool.
“Ek was altyd die kleinste ou in die gym en in die rugbyspan. Ek het meer tyd in die gimnasium begin spandeer en net aangehou oefen.”

Hy het gou besef hy is soos ‘n vis in water as dit kom by die dissipline, roetine en eetpatrone wat van liggaambouers verwag word.
“Dit het net vir my gewerk,” trek hy skouers op. Heinrich het destyds ‘n paar kleiner kompetisies gedoen, maar dit langs die pad weer laat agterweë bly.
Dit was totdat sy jarelange meisie, Leanel besluit het sy wil die sport hierdie jaar probeer. Hy het belowe om haar te help, maar was binne ‘n paar weke weer volstoom saam met haar aan’t oefen.

Die twee het hul eerste kompetisie in April gehad waar hul onderskeidelik tweede en derde plekke behaal het. Daarmee het hul gekwalifiseer om aan die provinsiale kampioenskappe deel te neem.
Ook hier het hul goed gevaar en toe hul oë uitvee was albei deel van die Gauteng span wat die provinsie by die nasionale kampioenskappe verteenwoordig het.
Hier het Heinrich homself verras deur tweede in die Classic Physique te kom en derde in die Body Building onder 80kg.
Hy is ook trots op Leanel wat sewende plek behaal het. “En dit was haar eerste jaar wat sy gestaan het,” glimlag hy trots.
Hy het gedink hy kan begin ontspan en die strawwe roetine bietjie opsy laat lê, toe hy die oproep ontvang dat hy vir die nasionale span gekies is om Suid-Afrika by die wêreld kampioenskappe te gaan verteenwoordig.
Dit vind plaas in Khobar, Saudi Arabië vanaf 26 November – 2 Desember. Heinrich sien baie uit na die Heinrich Abbott (27) gaan SA volgende maand by die World Bodybuilders Championships verteenwoordig.
“Dit sal ook die eerste keer wees wat ek ‘n ander land besoek,” vertel hy. Hy hoop hy sal kans kry om so tussen die kompetisie deur die plek van naderby te verken.
Intussen gaan hy voort met sy oefenprogram. Hy oefen twee keer per dag, ses dae per week en Sondae eenkeer. Hy hou ook by die baie streng dieet. Dan moet hy ook genoeg fondse insamel om Khobar toe te kan gaan.
“Ek benodig sowat R50 000, wat alles insluit. Daar is reeds ‘n Backa-Buddy rekening begin en dan hou ons ook ‘n Donkey Derby by die HS Carel de Wet op 7 November.”
Kostes beloop R1 500 per tafel (10 mense om ‘n tafel). Dit begin om 18:00 met die tema, Oefenklere uit jou era. Vir meer inligting kontak Lea (083 564 1667) of Leanel (076 575 2118).
