Local newsNewsNews

Sasolburg verdeeld oor Bierfees-pret

Party verwelkom dit, ander kla oor geraas

SASOLBURG – Die Veiling Pub Sasolburg, ‘n bekende kuierplek op die dorp, het vandeesweek erg onder kritiek deurgeloop.

Dit volg nadat lede van die gemeenskap hulself tot sosiale media gewend het om oor die laatnag geraasbesoedeling van die kuierplek se Bierfees, wat op 25 Oktober plaasgevind het, te kla.

Kommentaar op sekere Facebookblaaie het handuit geruk en moes gesluit word. Die gemeenskap was in twee geskeur met lede van die publiek wat vir en teen die “geraas” van die bierfees was.

Die Veiling Pub, met takke in Vanderbijlpark, Sasolburg en Meyerton, bring gereeld groot name in die musiekbedryf soos Jack Parrow, Biggy, Steve Hofmeyr, Gerhard Steyn en kie na die Vaaldriehoek.

Die Veiling se eienaar, Herman Pieterse, het ‘n openhartige inskrywing op die Veiling Sasolburg se Facebookblad gemaak waar hy op die klagtes reageer het.

Hiernaas volg die inskrywing:

’n Boodskap uit die Hart – Die Veiling Pub:

Liewe Sasol Gemeenskap,

Soos die meeste van julle weet, is Die Veiling Pub al lank meer as net ’n kuierplek. Ons is deel van hierdie gemeenskap — ’n plek waar vriende saam lag, musiek speel en herinneringe gemaak word. Van die begin af was ons doel eenvoudig: om goeie kos, vriendelike diens en lekker vermaak teen bekostigbare pryse te bied, terwyl ons ook iets teruggee aan die mense wat ons ondersteun.

Dit breek my hart om te sê dat Die Veiling die afgelope tyd geteiken word. Sekere individue blyk dit hul persoonlike missie te maak om ons te probeer afbreek — ons by die drankraad aan te meld, negatiewe dinge op sosiale media te versprei, en ons naam op plaaslike groepe te beswadder.

Wat my die meeste seermaak, is nie die kritiek self nie, maar die bedoeling daaragter — en hoe eensydig die gesprek geraak het. Toe lede van die gemeenskap vir ons opgestaan het en ons probeer verdedig het, is die kommentaar skielik afgeskakel. Hoe toevallig is dit nou?

Aan elke persoon wat vir ons opgestaan het, wat kommentaar gelewer het, of net in stilte in ons bly glo — baie dankie uit die diepte van my hart. Julle is die ware helde van Sasolburg.

Ek wil ook graag die feite uitlig:

  • Ons hou slegs twee groot geleenthede per jaar – Country Dag en Bierfees, en albei eindig stiptelik voor 23:00.
  • Buiten dit het ons hoogstens een of twee kleiner vertonings per maand, wat gewoonlik voor 22:00 klaar is.

Dit beteken ons hou sowat 24 aandgeleenthede per jaar — 24 uit 365 dae!

Tog het ons binne die afgelope drie maande al meer as een besoek van die drankraad gehad, en selfs ’n oudit van die departement van arbeid. Dis nogal vreemd hoe alles skielik saam gebeur het… Gelukkig is al ons lisensies en dokumentasie in orde, en het ons niks om weg te steek nie — net harde werk en ’n groot liefde vir ons mense.

Aan ons lojale ondersteuners — baie, baie dankie dat julle steeds agter Die Veiling staan. Sonder julle sou ons eenvoudig nie kon voortbestaan nie.

Ons bly toegewy daaraan om ’n veilige, vreugdevolle en verantwoordelike plek vir die gemeenskap te wees. Laat ons aanhou om mekaar op te bou, want ’n sterk gemeenskap staan saam, nie teen mekaar nie.

Met liefde en dankbaarheid,

Mnr. H. Pieterse/Mnr. M. vd Berg

Eienaars – Die Veiling Pub, Sasolburg

 

 

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button