Bly weg! Ondraaglike stank by ELM kliëntedienssentrum
Dié rioolramp is geensins 'n eenmalige voorval nie. Sedert die munisipaliteit die vierverdiepinggebou begin huur het, was daar reeds sewe soortgelyke voorvalle, waarvan drie in 2025 plaasgevind het.
VANDERBIJLPARK – Die VF Plus het inwoners van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit (ELM) dringend gemaan om die munisipaliteit se kliëntedienssentrum in die OK-gebou in middedorp tydelik te vermy.
Die parkeerterrein is met riool oorstroom, wat ‘n ondraaglike stank veroorsaak en die parkeergebied sowel as die gebou ongesond en ontoeganklik maak.
Die rioolprobleem het Donderdagoggend steeds voortgeduur.

Herhalende krisis en swak instandhouding
Die situasie word vererger deurdat die gebou se lugversorgers nie funksioneer nie.
Die munisipaliteit betaal R1,3 miljoen per maand vir die huur van die gebou.
Ingevolge die huurooreenkoms is die munisipaliteit self verantwoordelik vir die instandhouding, ‘n plig wat duidelik versuim word.
Amptelike klagte en ultimatum
Amptenare wat in die gebou werk het ‘n formele klag by die Gautengse provinsiale regering en Emfuleni se departement van omgewingsgesondheid ingedien.
Hulle eis dat die onhoudbare situasie ondersoek en onmiddellik reggestel word.
Die VF Plus beklemtoon dat die Arbeidswet ‘n skoon en veilige werksomgewing vereis.
Indien die rioolprobleem nie spoedig opgelos word nie, sal die VF Plus daarop aandring dat die kantore gesluit word totdat die gebou deeglik ontsmet is.
