Pragtige Gizelle ‘n wenner deur en deur
Sy het nie met die titel weggestap nie, maar is baie aanhangers ryker. Met met haar positiewe uitkyk op die lewe, sterk leierseienskappe, kennis en pragtige glimlag lyk die toekoms baie rooskleurig.
VANDERBIJLPARK – Die pragtige Gizelle Venske (27) het die Vaal se naam hoog gehou tydens die Mej. Suid-Afrika kompetisie.
Die Mej. Suid-Afrika kroning is 25 Oktober by die Sun Bet Arena by Times Square, Pretoria, gehou.
Gizelle was een van die Top 10 aanspraakmakers op vanjaar se kroon, en hoewel sy net tot die Top 5 gevorder het, is Vaalweekblad saam met die res van die Vaal baie trots op haar.
Gizelle is die dogter van Anto en Johan Venske (hoof van die HS Transvalia). Sy was op haar dag die hoofdogter van die LS Kollegepark, en later ook hoofdogter van die HS Transvalia.
Sy woon nie meer in die Vaal nie, maar in Lynnwood, Pretoria, maar bly ‘n Valie in murg en been.

Haar deelname was deur en deur ‘n wen vir die jong dame wat nog altyd daarvan gedroom het om ‘n platvorm te hê sodat sy ‘n rolmodel kan wees en ‘n verskil maak in ander se lewens.
Dit het sy nou vermag, want hoewel sy nie gewen het nie, het sy harte regoor die land gesteel.
Daar is natuurlik soos altyd baie mense wat op sosiale media hul gevoelens bekend gemaak het, en aangevoer het dat Gizelle “gerob” was van die titel.
Hoe dit ookal mag wees, sy bly ‘n wenner wat haar platform sal gebruik om ‘n impak in ander se lewens te maak.
Baie hoop dat sy sommer volgende jaar weer moet probeer, maar ons sal maar moet wag en sien.
Intussen lê daar ‘n blink toekoms vir Gizelle voor. Sy is ‘n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester, en het onlangs ‘n nuwe aanstelling as ‘n besigheidsontwikkelingsbestuurder by ‘n wêreldwye firma aanvaar.
