Rubriek: Het mooi mense dit makliker?
Mooi vrouens land soos katte altyd weer op hul voete.

Op my jeugdige ouderdom het ek een ding weer besef… mooi mense se lewens is baie makliker. Veral die Evasgeslag se lewenspad is veel makliker as die Adamsgeslag s’n.
Vandat die dokter hul boud klap tot die doodsengel hulle kom haal, is beeldskone mense se lewens makliker.
Selfs vir Evas wat nie oor natuurlike skoonheid soos hoë wangbene en volronde lippe beskik nie, is daar altyd ‘n oplossing.
Grimering, kollageenaanvullings, silikoon-inplantings, kunsnaels en haarverlengings om maar net ‘n paar hulpmiddele in die vrou se oeroue arsenaal van die Donker Kuns van verleiding te noem.
As jy ‘n man is en uit die walgboom geval en elke tak ondertoe getref het, is jy in die moeilikheid. As jy lelik is, is jy lelik.
Jy kan miskien ‘n baard groei om jou babagesiggie te versteek en miskien ‘n goeie persoonlikheid ontwikkel, maar dit gaan nie te veel help nie.
Die ryk en aantreklike mans gaan maar altyd voor in die ry staan. Ja-ja, al die feministe en manlike chauviniste gaan nou waarskynlik hulle mes vir my inhê, maar feite is feite.
Mooi vrouens land soos katte altyd weer op hul voete.Vir ‘n man is daar slegs twee opsies: Of jy word met die silwerlepel in die mond gebore, of jy werk jou hande stompies.
Vrouens kan ryk trou, hulle beskik immers oor sekere bates wat mans al van die begin van tyd mesmeraais. Maar dit blyk asof daar wel ook ‘n uitsondering op die reël is.
Al is jy beeldskoon en uiters intelligent gaan jy sukkel om as Mej. Suid-Afrika gekies te word. Vat maar net vir die Vaaldriehoekse skoonheid, Gizelle Venske, wat pas onder die Top 5 van die 2025 Mej. Suid-Afrika skoonheidskompetisie geëindig het.
Enigeen wat haar al persoonlik ontmoet het sal daarvan kan getuig dat sy meer as net ‘n mooi gesiggie is. Haar persoonlikheid, skoonheid en intellek maak van haar ‘n “complete package.”

G’n wonder haar aanhangers brom dat sy slegs die Top 5 gehaal het nie. Hoewel die kroon op iemand anders se kop beland het, is sy steeds nommer een in die Vaaldriehoek.
Darem weet ons dat die 27-jarige rekenmeester haar eie paadjie sal oopkap. Sy beskik oor alles en nog meer om ‘n suksesverhaal te skryf.
Sy hoef beslis nie ryk te trou nie. Daar word altyd gesê alle sterlinge word gelyk geskape, maar ek weet nie so mooi.
Sy laat mooi mense lelik lyk en vir diegene van ons wat op ons persoonlikhede moet staatmaak om die teenoorgestelde geslag te bekoor… staan sterk. Daar’s altyd drank en slegte oordeel wat die skaal in jou guns kan laat swaai! Die “silly seay season” is immers om die draai.
