Suksesvolle gholfdag ten bate van Milanka
Die gholfdag was gehou as fondsinsameling vir die 25-jarige Milanka McDonald, een van die Vaal se mees bekende en geliefde Downsindroomlyers.
VANDERBIJLPARK – Dit was groot pret vir ‘n waardige doel. Dit was natuurlik verlede Vrydag se gholfdag by die Emfuleni Gholfklub.
“Ek sê altyd ek wonder hoekom is die woord DANKIE so klein, maar met die grootste betekenis. ‘n Mens verstaan dit ook nie regtig nie, tot jy dit uit die diepste van jou menswees vir iemand sê en dit bedoel,” sê Tania McDonald, Milanka se ma.
“Ons as ouers en familie wil graag vir elke persoon, instansie, besigheid sê baie DANKIE vir jul betrokkenheid, omgee, liefde en oop hand waarmee jul hierdie projek saam met ons aangepak het. Ons waardeer dit opreg.”
Die dag was ‘n groot sukses en gaan ‘n groot verskil maak vir Milanka. Sy was self daar om te deel in die pret en om verrigtinge fyn dop te hou.
Milanka het selfs haar slag met ‘n gholfstok gewys … en ja, na ‘n paar probeerslae het sy daai balletjie getref.
“Dit was beslis ‘n dag van lekker lag en kuier net soos wat ons dit beplan het,” sluit Tania af.
Die gesin bedank al die borge en elke speler wat die dag ondersteun het.





