SHS wys sy kunsskatte
Die terugvoering wat die jong kunstenaars ontvang het, was uiters vleiend en welverdiend.
SASOLBURG – Ure en ure se bloed, sweet en trane was alles toe die moeite werd. Daarvan kan die graad 12-kunsleerlinge van die Hoërskool Sasolburg (SHS) getuig tydens die skool se jaarlikse visuele kunsuitstalling wat op 20 Oktober plaasgevind het.
Jonk en oud was behoorlik uitgevat tydens die spoggeleentheid wat in SHS se skoolsaal plaasgevind het. Die leerlinge se pragtige skilderye, potloodsketse, portrette en abstrakte kunswerke het soos soetkoek verkoop.

Vir meeste van die jong kunstenaars was dit hul eerste kennismaking met die kunswêreld wat soms wreed, maar meestal uiters vervullend kan wees.

Die terugvoering wat die jong kunstenaars ontvang het, was uiters vleiend en welverdiend. Soos dit ‘n wafferse kunsuitstalling betaam was daar ietsie van die wingerdstok vir die wat oud genoeg was en heerlike versnapperings.
Alles wat bygedra het om van die aand ‘n onvergeetlike affêre te maak.
