Vanderbijlpark-familie vra hulp vir bejaarde
’n 70-jarige Vanderbijlpark-pensionaris het sy heup en femur gebreek toe hy glo ’n bakleiery probeer stop het — nou veg sy familie om fondse vir sy operasie bymekaar te maak.
VANDERBIJLPARK – ’n Pensionaris, Sarel Nagel (70), is Sondagaand ernstig beseer by sy huis in Wordsworthstraat.
Mnr Nagel het glo probeer om ‘n bakleiery stop te sit toe ‘n 24-jarige man hom hard gestamp het en hy teen ‘n sypaadtjie geval het en sy heup gebreek het.

Hy lê tans in die Sebokenghospitaal met ’n gebreekte heup en femur en sal operasies moet ondergaan.
Nagel se dogter, Elsie Kirch, het aan ons gesê haar pa het geen inkomste meer nie aangesien hy ’n afgetrede SASSA-pensionaris is, en die gesin sukkel om die koste van die mediese behandeling te betaal.

“Ons het nie die nodige fondse vir die operasies nie en waardeer enige hulp of raad om hierdie situasie te hanteer,” sê Elsie.
Volgens Elsie het die insident Sondag omstreeks 20:50 by die familiehuis plaasgevind.
Sarel se familie is tans besorg oor sy herstel en die uitdagings wat die mediese rekeninge meebring.
Die familie versoek begrip dat sekere besonderhede van die insident sensitief is en dat hulle nie alle persone by naam wil noem nie.

Sarel is eers na die Kopanong-hospitaal in Vereeniging geneem en later na die Emfuleni Mediclinic, ‘n privaathospitaal waar hy meegedeel is dat die operasie ongeveer R60 000 sou kos.
Omdat die gesin nie die fondse het nie, is hy na Sebokenghospitaal – ‘n staatshospitaal – oorgeplaas, waar hy tans in traksie lê.
Enigeen wat kan help, word vriendelik versoek om Sarel se vrou, Trudie Nagel, by 082 420 4649 te skakel.
Die familie waardeer alle ondersteuning en advies om deur hierdie moeilike tyd te kom.

