VANDERBIJLPARK – Dit het alles begin toe een van Ankerskool se onderwysers ‘n leerder op die stoep raakgeloop het.
“Sy bril het vir my vuil gelyk en ek het gevra dat hy dit aangee sodat ek dit kan skoonmaak,” onthou Gerrit van Bemmel.
Hy het opgemerk dat die lense gekrap was. Dit was duidelik dat die leerder lankal ‘n ander bril moes kry.
“Dit het my baie gepla en ek het besef hy kan nie die enigste een met die probleem wees nie. Ek het aan allerhande maniere begin dink om ‘n projek te befonds om leerders te help met hul sig probleme.”
Daar is hout verkoop en kaartjies waar oornag verblyf by ‘n gastehuis gewen kon word. Uiteindelik het Gerrit hom na Jackie van Waveren van die Rotariër Klub van Vanderbijlpark gewend.
Sy en die president van die betrokke klub, Zander Lintveld, was dadelik entoesiasties om deel van die Missie: Visie projek te word.
So ver is agt leerders geïdentifiseer by Ankerskool waarvan drie al elk ‘n nuwe bril het en die ander vyf nog in die jaar vir oogtoetse sal gaan.
Marnu en Kathleen Kruger van Crystal Clear Optometrist help waar hulle kan om die pryse so laag moontlik te hou en het die prys per kind beperk tot R990.
“Ons het besluit om nie net op Ankerskool se leerders te konsentreer nie, maar die projek in die toekoms uit te brei na soveel moontlik skole en selfs na tehuise vir bejaardes toe,” sê Gerrit.
Zander sê: “Ek het lanklaas ‘n projek gesien wat die Rotariërs so opgewonde het, tot die scepticals steun spectacles.”
