Vaal se skatkis van skoonheid blink
Die Vaal se onbetwisbare skoonheidspotensiaal moet nie onderskat word nie!
VANDERBIJLPARK – Die streek het die afgelope twee jaar bewys dat hy ‘n broeiplek vir kampioene is.
Dit volg nadat die pragtige Gizelle Venske (wat in Vanderbijlpark groot geword het), die Top 5 van die 2025 Mej. Suid-Afrika kompetisie gehaal het.
Verlede jaar het Mia le Roux, die skoonheid wat in Sasolburg gebore is, met die gesogte kroon weggestap.
En nou is dit die kleine Haylene Horn van die Laerskool D.F. Malherbe, se beurt om die kollig te steel.
Hierdie Grondslagfase-leerling het die streek se naam hoog gehou deur onlangs in Klerksdorp gekroon te word as die internasionale wenner van Toddler & Tween of the World.
Haar styl, glans en borrelende persoonlikheid het die toeskouers en beoordelaars beïndruk.
Ten spyte van haar jong ouderdom (sy is in graad 1), is Haylene geen groentjie op die verhoog nie.
Sy doen reeds modelwerk en skoonheidskompetisies sedert sy twee jaar oud is.
Die Vaal se skoonheidskroon lê duidelik in bekwame hande!

