Local newsNewsNews

Hermien se vlytige vingers nou stil

Ondanks haar pyn en ongemak kon sy haar vriende en Jeugland se personeel gereeld laat skater met haar spitsvondige sêgoed.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Jarelange inwoner van Jeugland-ouetehuis, mev. Hermien van de Vyver, is verlede Donderdag in die ouderdom van 78 in Mediclinic Emfuleni oorlede.

Vaalweekblad het die afgelope jare gereeld oor Hermien se vlytige vingers berig: Sy het gereeld kniekombersies vir minderbevoorregtes gebrei of gehekel en was ook een van die GTCOC (Sakekamer) se ywerigste deelnemers aan hul Guinness World Records-projek om die langste serp in die wêreld te maak.

Hermien is op 27 Desember 1946 in Pretoria gebore en het as baba saam met haar ouers, Danie en Joey Riekert, na Vanderbijlpark verhuis, waar sy aan die Hoërskool Transvalia en later die Hoër Handelskool Vereeniging skoolgegaan het.

Na skool het sy as tikster by die destydse Yskor-hoofkantoor in Pretoria aangesluit. Na haar troue met Chris van de Vyver (wat intussen oorlede is) het die egpaar hulle in Vanderbijlpark gevestig.

Sy het jarelank as diktafoontikster vir die spesialiste by Vaalmed gewerk, waar sy baie geliefd was en gou naam gemaak het danksy haar hoë werksetiek en besonderse noukeurigheid.

Hermien en haar oorlede man, Chris van de Vyver.

Hoewel sy die afgelope jare bedlêend was weens verskeie gesondheidsuitdagings, het sy nooit haar fyn humorsin verloor nie.

Een van haar geliefkoosde uitdrukkings was: “As jy vir jouself kan lag, het jy altyd iets om oor te lag”.

Sy was baie musikaal en het in haar jonger jare graag orrel gespeel. Sy was ook baie lief vir lees en het ‘n indrukwekkende algemene kennis gehad.

“Sy was Google op twee bene. ‘n Mens kon haar enigiets vra,” sê haar jongste seun, Chris.

Na ‘n onlangse gesondheidsterugslag is Hermien in ‘n bewustelose toestand in Mediclinic Emfuleni se waakeenheid opgeneem, waar sy op 30 Oktober beswyk het.

Sy word oorleef deur haar kinders, Hannelie, Riaan en Chris, haar skoonkinders, kleinkinders en haar broer, Christo Riekert.

Haar gedenkdiens word Vrydag, 7 November, om 11:00 by die Nederduitsch Hervormde Kerk Vanderbijlpark-Oos in Mumfordstraat gehou.

Hermien as ‘n jong meisie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button